As deel van my werk kry ek so baie te doen met kinders wat nie van lees hou nie. Hoe maak ons hul lief vir lees? Uit ondervinding het ek geleer dat ouers wat sorg dat boeke vanaf ‘n baie jong ouderdom ‘n integrale deel van hul kinders se lewe vorm, hul kinders makliker oortuig van die lekkerte van lees.
Die toepassing van leesvaardighede is natuurlik legio. Voordat jy ’n nuwe speletjie kan speel, moet jy die reëls lees, voordat jy ’n projek, stokperdjie of tydverdryf aanpak, moet jy kan lees. Jy moet kan lees om ‘n resepteboek te gebruik of om jou volgende vakansie te beplan. Om te kan uiteet moet jy ‘n spyskaart kan lees en voordat jy ‘n kontrak teken, moet jy die inhoud lees en verstaan.
Gawe van die Here
Die wonder van taal in al sy fasette is ‘n gawe wat ons van die Here ontvang het. Hy het dit ook beskik dat sy Woord in ‘n geskrewe vorm aan ons gegee is. Om kinders toe te rus met leesvaardighede is dus van onskatbare waarde vir hul geestelike vorming. ‘n Kind wat kan lees kan die Bybel lees en kan die Here reg leer ken soos Hy Homself in sy Woord openbaar.
Voordele van lees.
- Ouers wat gereeld voorlees, versterk en bou gesinsbande. Om ʼn dag met ‘n storieboek af te sluit verseker ʼn rustige atmosfeer en gesinne spandeer tyd saam.
- Lees stimuleer die intellek. Kinders wat van ’n vroeë ouderdom blootgestel is aan lees, kan beter waarneem, verbande makliker trek, beter insig toon, abstrakte begrippe word makliker verstaan en logiese denke word gestimuleer. Goeie skoolprestasie volg dan hierop.
- Lees verbeter mens se algemene kennis. Met die lees van goeie boeke help dit ons om vanuit ons Gereformeerde lewens- en wêreldbeskouing te verstaan hoe die lewe werk, hoe die samelewing funksioneer en wat menslike gedrag motiveer.
- Lees dra by tot beter kommunikasie- en taalvaardighede. Hoe meer ʼn kind blootgestel word aan korrekte taalstrukture en uitsprake hoe beter sal sy eie woordeskat en taalvaardigheid wees.
- Luistervaaardighede wakker die verbeelding aan en verbeter die kind se skryf- en redenasievermoë.
- Om te luister na ‘n voorlesing of self te lees verbeter konsentrasievermoë. Kinders leer om stil te sit en gekonsentreerd te lees of te luister. Boonop word ouditiewe geheue ook gestimuleer.
- Om te kan lees, verskaf natuurlik ure se genot. Lees is heerlik en ontspannend, mens ontsnap na ʼn ander wêreld. Hoe anders sal jy oor berge klim, lang reise onderneem, oor wye oseane vlieg en in tonnels onder die grond speel?
Kweek ‘n liefde vir lees
Dit is duidelik dat lees dus baie voordele inhou, maar hoe kweek mens ʼn liefde vir lees aan?
ʼn Kind wat opgroei in ʼn huis waar die enigste leesstof die populêre weekblad is, gaan beslis nie ʼn liefde vir lees ontwikkel nie. Die voorbeeld wat in die huis gestel word oefen ‘n groot invloed op kinders se gesindheid teenoor lees uit. Onderwysers leer kinders om te lees saam met al die tegniese vaardighede wat nodig is, maar die liefde vir lees word tuis gekweek. Daar is ’n verskil tussen kán lees, en lief wees vir lees, en die grondslag daarvoor word in die ouerhuis gelê.
Ek is oortuig daarvan dat suksesvolle lesers al van babatyd af aan plastiekboekies wat geluide maak blootgestel is. Daar leer hulle al van vroeg af die konsep van blaai en prente. Later gaan dit oor na interaktiewe kartonboekies.
Dit is so belangrik om ‘n kind taalsensitief op te voed. Maak hul bewus van stories, rympies, klanke, woordspeletjies, prenteboeke en al die lekker geheime van woorde. Dit behoort heel natuurlik te kom. Jong kinders hou van herhaling, hulle voel veilig met die bekende en sal daarom ʼn storie 40 keer oor wil hoor, vanuit die bekende beweeg hulle na die onbekende en sal die wonderwêreld van lees en stories ontdek.
Voorlees
In my skoolgeedae in die grondslagfase het ek gereeld 5 minute van periodes afgeknyp om aan die einde van die dag te kon stories lees. Daar is wonderlike boeke om te kan voorlees. Dit gee vir die kinders oneindige plesier en help om die skooldag rustig af te sluit. Later het ek die voorreg gehad om geskiedenis en wetenskapverwante vakke vir die hoër grade aan te bied. Hulle geniet ʼn storie steeds baie. In plaas van om hulle te vertel van Louis Braille, gaan soek ʼn storie en lees dit voor. Kinders onthou die feite soveel beter as dit op ʼn ontspanne wyse oorgedra word. Op hierdie wyse sorg die skool ook dat die kind ten minste 20 minute per dag kan geniet van voorlees, die minimum dosis wat die Children’s Reading Foundation aanbeveel.
Voorlees vanaf ’n vroeë ouderdom bly ʼn noodsaaklike deel in die kweek van ʼn liefde vir lees. ʼn Kind aan wie gereeld voorgelees is se nuuskierigheid word geprikkel, hy gaan later wil saamlees en dan selflees.
Waak egter teen formele leesafrigting voor graad 1. Kinders se perseptuele vaardighede is nog nie ten volle ontwikkel nie en die forseer van leer om te lees voor graad 1 kan die kind negatief instem teenoor lees.
Onthou storietyd moet altyd ʼn ontspanne tyd wees. Die beste tyd by die huis om voor te lees is voor slapenstyd. Koop sommer ʼn mooi bedlampie sodat hy net voor slapenstyd af en toe self nog ʼn bietjie kan lees.
Keuse van boeke
Probeer om boeke te kies wat by kinders se belangstellingsveld pas. Ek onthou ‘n vyfjarige seuntjie wat gedink het hy wil ʼn paleontoloog word. Groot woord vir ʼn vyfjarige! Hy het presies geweet wat dit beteken, want sy ouers het vir hom die oulikste storieboeke daaroor gekoop. My eie dogter wou altyd ʼn ruimtevaarder word. Nodeloos om te sê het ons sommer baie boeke oor daardie onderwerp voorgelees. Markus Stermuis is een van die oulike boeke oor hierdie onderwerp.
Boeke is ‘n duur uitgawe, maar daar is baie opsies om dit te oorkom. Sluit aan by die biblioteek of gaan snuffel in tweedehandse boekwinkels. Die hospice het ‘n wye verskeidenheid kinderboeke teen bekostigbare pryse. Belê ook hierdie vakansie in die kweek van ‘n gesonde liefde vir lees in jul gesin en geniet die wêreld van woorde saam met jul kinders.