Anton Meijer het in 2008 gematrikuleer. Volgens hom het Dirk Postma bygedra tot die manier waarop hy homself vandag in die werkplek, gemeenskap, binne sy familie-kring en kerk handhaaf.
1. Vertel ons ’n bietjie van jouself: wie is jy, waar kom jy vandaan, en watter jare was jy by Dirk Postma?
My naam is Anton Meijer. Ek het grootgeword in Waverley, Pretoria, en was van 1996 tot 2008 saam met my broer en twee susters in Dirk Postma (beide laer- en hoërskool).
2. Wat is jou mooiste herinnering van jou tyd by die skool?
Die vriendskappe wat ek tydens my skooljare gesmee het. Ek is steeds boesemvriende met van my skoolmaats.
3. Watter onderwyser het die grootste indruk op jou gemaak, en hoekom?
Meneer Dolf van der Merwe. Buiten vir sy entoesiastiese styl van klasaanbieding, het hy my liefde vir taal uitgebou en ook ’n goeie invloed gehad op my lewensuitkyk en die manier hoe ek uitdagings aanpak.




4. Was jy betrokke by enige buitemuurse aktiwiteite, sport of kultuur? Wat het dit vir jou beteken?
Ek het deelgeneem aan rugby, krieket, hokkie, sokker, sagtebal, en revue. Die buitemuurse aktiwiteite het my geleentheid gegee om my talente te ontdek en te ontwikkel (en om van al my ekstra energie ontslae te raak).
5. Hoe het die Christelike waardes en gereformeerde grondslag van die skool jou gevorm : as mens, as werker, as gesinsmens?
Die skool het wesenlik bygedra tot die manier waarop ek myself vandag in die werkplek, in my gemeenskap, familie en kerk handhaaf. Ek leef met ’n dieper besef van my taak as kind van die Here.
6. Wat doen jy tans: beroep, studies, gesin?
Ek is getroud en woon in Pretoria. My liefde vir tale het my gelei op by UP joernalistiek te studeer waarna ek bevoorreg was om vir baie jare in die radiobedryf te kon werk. Tans werk ek as Kommunikasie- en Openbare Betrekkinge-beampte by die organisasie Sakeliga.
7. Watter vaardighede of karaktereienskappe uit jou skooljare gebruik jy vandag nog elke dag?
Vriendelikheid teenoor jou medemens, en regverdigheid.
8. Waarop is jy die trotste sedert jou skoolloopbaan?
Om elke dag nog my talente wat die Here aan my gegee het te gebruik om ’n verskil in my gemeenskap te maak.
9. Wat sou jy vir ouers sê wat oorweeg om hul kinders by Dirk Postma in te skryf?
Die persoonlike aandag wat elke kind by die skool geniet is uiters voordelig, en die Christelike grondslag van die onderrig is van onskatbare ewigheidswaarde.
10. Wat sou jy vir huidige leerders wil sê wat nog in die skool is?
Hou vas aan die wete dat jy ’n boom is wat geplant is by ’n Waterstroom, wat vrugte gee op sy tyd (jou tyd sal kom!) en waarvan die blare nie verwelk nie.
11. As jy die skool in een sin moes opsom, wat sou jy sê?
’n Skool waar jy geborge sal wees en die geleentheid sal kry om jou roeping in God se koninkryk na te kom.