- Vertel ons ‘n bietjie van jouself: wie is jy, waar kom jy vandaan, en watter jare was jy by Dirk Postma?
My naam is Marnix Boon, jongste seun van Pieter en Jenny Boon. Ek is gebore in Pretoria en bly tans ook in die Jakarandastad. Ek was in die Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn waarna ek my hoërskooljare by die Gereformeerde Skool Dirk Postma deurgebring het. Ek was dus vanaf graad 8 tot en met matriek in Dirk Postma waar ek in 2024 gematrikuleer het.
- Wat is jou mooiste herinnering van jou tyd by die skool?
Die mooiste herrineringe vir my was die verskeie toere en kampe waarop ek gedurende my hoërskooljare was. Dit sluit die jaarlikse Warmbad-uitstappie en die Graad 10-toer in. Dit was altyd baie gesellig om saam met vriende op ’n skooltoer te gaan.
- Watter onderwyser het die grootste indruk op jou gemaak, en hoekom?
Meerdere van die onderwysers het ’n indruk op my tydens my skoolloopbaan gemaak. Ek sal egter sê dat meneer Wiku van Rooyen die grootste indruk gemaak. Hy was ons klas se voogonderwyser vanaf graad 8 tot en met graad 12. Ek het baie van hom geleer tydens elke dag se opening in die voogperiode. Hy het ook Kerkgeskidenis en Lewensoriëntering aangebied. Kerkgeskiedenis is vir my persoonlik een van my gunstelingvakke gewees. Ek het ook baie van hom geleer in terme van geloofsleer in Kerkgeskiedenis en Lewensoriëntering.


- Was jy betrokke by enige buitemuurse aktiwiteite, sport of kultuur? Wat het dit vir jou beteken?
Ten opsigte van sport het ek aan atletiek en gholf deelgeneem. Ek kon werklik sport geniet sonder om onnodige prestasiedruk te ervaar. Verder was ek ook in die Dagbestuur en Diensraad wat my baie geleer het ten opsigte van diensbaarheid en leierskap.
- Hoe het die Christelike waardes en gereformeerde grondslag van die skool jou gevorm: as mens, as werker, as gesinsmens?
Deurdat ek by die huis, kerk en skool Christelike onderig ontvang het, het dit my laat besef dat Christenskap die nommer een prioriteit in elke aspek van die lewe moet wees. Dit is nie net iets wat jy persoonlik by die huis uitleef nie maar ook moet uitleef in jou werk en verhoudings met ander mense. Dit is onmoontlik om jou geloof te skei van die alledaagse.
- Was daar ‘n spesifieke oomblik of les wat jou geloofslewe of lewensuitkyk verander het?
Ek sal nie sê dat een oomblik my lewe drasties verander het nie, maar ’n les wat my baie laat nadink het en ook waaruit ek baie geleer het, was ’n kerkgeskiedenis les in graad 8 oor die totale verdorwenheid van die mens. Totale verdorwenheid is een van die fundamentele aspekte van die Gereformeerde geloof wat vreemd genoeg baie troos bied.

- Hoe verskil jou ervaring by Dirk Postma van wat jy sien by mense wat elders skoolgegaan het?
By Dirk Postma is jy omring met mense wat dieselfde oor goed dink met dieselfde geloofsoortuigings. By Dirk Postma ken jy amper almal by die naam, wat ook tot ’n meer hegte skool lei. Hierdie is nie altyd die ervaring by ander groter skole nie. Die atmosfeer is oor die algemeen ook ’n bietjie meer informeel as by ander skole. En dan natuurlik ook die feit dat ons Bybelonderwys in die klas ontvang wat nie die geval is in ander skole in die omgewing nie.
- Wat doen jy tans: beroep, studies, gesin?
Ek is tans in my 2de jaar in my studie in Bcom Rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria (TUKS).
- Watter vaardighede of karaktereienskappe uit jou skooljare gebruik jy vandag nog elke dag?
Ek gebruik natuurlik heelwat van my akademiese kennis wat ek by Dirk Postma opgedoen het in my huidige studie. Ek gebruik ook die ervaring wat ek in die Dagbestuur opgedoen het, onder andere hoe om vergaderings te hou en voor mense te praat.
- Waarop is jy die trotste sedert jou skoolloopbaan?
Dat alles deur die genade van die HERE in my studie nog verloop soos ek beplan het toe ek by die universiteit ingeskryf het.
- Wat sou jy vir ouers sê wat oorweeg om hul kinders by Dirk Postma in te skryf?
Ouers het tydens die doop van hulle kinders belowe om hulle kinders in die vrees van die HERE groot te maak. Die gemeente het ook tydens daardie doop belowe om te help met die Christelike grootmaak van die kind. Dit is dus die kerkgemeenskap se plig om ’n ruimte te skep waar kinders in die vrees van die HERE grootgemaak en onderrig kan word. Die Gereformeerde Skool Dirk Postma poog om hierdie ruimte te skep en alhoewel die skool nie perfek is, nie bly dit ons gemeenskaplike plig om dit te ondersteun.
- Wat sou jy vir huidige leerders wil sê wat nog in die skool is?
Besef die voorreg om in die enigste Gereformeerde Hoërskool in die land te mag wees en maak die beste daarvan. Wees ’n lig in die samelewing sodat die skool ’n positiewe effek kan hê op die groter gemeenskap. Wees sterk en vol moed!
- As jy die skool in een sin moes opsom, wat sou jy sê?
In die diens van die HERE.