Om ‘n onderwyser te wees is nie ‘n maklike taak nie, inteendeel dit is ‘n baie groot gewigtige verantwoordelikheid. Onderwysers by GSDP besef dat hulle aangestel is om die volgende geslag in die weë van die Here op te voed (Ps. 78)
Elke onderwyser wat by GSDP aangestel word is elkeen lid van die liggaam, die kerk van Jesus Christus. Hulle is dus elkeen kind van God wat geroep is om die leerlinge in die leer van die hele Skrif (2 Tim 3: 16 en 17) te onderrig

Om getrou te wees aan hierdie roeping moet die onderwysers wat by GSDP betrokke is uiteraard naby aan die Bybel leef. Die Bybel is die Woord van God, die bron van ons hele denke asook handel en wandel. Prakties beteken dit dat onderwysers moeite moet doen om die Bybel te bestudeer. Persoonlik, by die kerk in Bybelstudiegroepe, maar ook hier by die skool.
By GSDP doen ons daarom baie moeite om elke tweede Woensdag te vergader rondom sake van die onderwys en hoe die Woord van die Here ons hierin rig en onderrig. Onderwysers by ons skool is ook gebroke sondaarmense wat daarna verlang om as leerling van Christus meer en meer toegerus te word. Sodoende kan die leerlinge aan ons toevertrou meer en meer begelei word om hul te help om te word wat God hom bedoel het om te wees en om sy plek in te neem op die lewensterrein waar God hom roep.
Tydens hierdie personeelontwikkelingsgeleenthede op Woensdae poog ons om onderwysaangeleenthede soos kurrikulumontwikkeling, dissipline, assessering en vele meer vanuit ‘n Skriftuurlike begronding aan te pak. Dit gee aan personeel die geleentheid om te besin oor die Gereformeerde karakter van GSDP op alle terreine. Hier word jonger personeel ook die geleentheid gebied om te leer by meer ervare personeel.
Ons het as personeel saam besluit om Shepherding a Child’s Heart (Herderskap van ‘n kinderhart) deur Tedd Tripp saam met die kleuter- en laerskool personeel en Age of Opportunity deur Paul Tripp saam met die Hoërskoolpersoneel deur te werk.
Beide boeke is ’n tydlose en Bybelgetroue gids vir ouers en onderwysers wat kinders wil opvoed tot eer van God. Beide die boeke beklemtoon die hart van die kind en fokus nie net op die vorming van uiterlike gedrag nie. Ouers en onderwysers word herinner dat ware verandering van binne kom — uit die kind se verhouding met God — en nie bloot deur gedragsbeheer of dissipline alleen nie. Die boeke bied nie maklike oplossings nie, maar wys op Christus as die enigste hoop vir beide ouers (onderwysers) en kinders.

Ons poog dus werklik om die onderwyser toe te rus om in staat te wees om die leerling na die God van die verbond te lei. Dit kan alleen gedoen word as die onderwyser self uit die ware geloof leef, sodat die leerlinge ook sy voorbeeld kan vol. So word die kind dan begelei om uiteindelik in alles te leef volgens die eise van die Skrif.