Die Bybel praat op verskeie plekke oor opvoeding en hoe belangrik dit is om kinders in die weë van die Here groot te maak. Dit is nie bloot ’n aanbeveling nie, maar ’n opdrag van God self. Deuteronomium 6:6–7 verduidelik dit só mooi:
“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” (Afr. 1983)
Die verantwoordelikheid wat op ouers se skouers rus, is groot. Hulle moet seker maak dat hul kinders nie net akademies voorberei word vir die toekoms nie, maar ook geestelik gewortel is in God se Woord. In ’n wêreld waar waardes al hoe meer vervaag, bied Gereformeerde Skool Dirk Postma (GSDP) ’n veilige omgewing waar opvoeding vanuit ’n Bybelse wêreldbeskouing plaasvind. Dit is die ideale plek vir ouers wat verlang dat hul kinders nie net kenners word nie, maar ook koninkrykswerkers – jong mense wat met ‘n diep sin vir roeping leef.
Vanaf ’n jong ouderdom word kinders by GSDP geleer dat hul roeping verder strek as net hulle eie sukses. Hulle word van vroeg af toegerus om diensbaar te wees aan God, aan hul medemens, en aan die samelewing. Hierdie vorming is van kardinale belang, want soos Spreuke 22:6 sê: “Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.” (Afr. 1983)
By GSDP is opvoeding nie net gerig op die oordra van wêreldse kennis en vaardighede nie, maar ook op geestelike groei en karakterontwikkeling. Koning Salomo, een van die wysste mense wat ooit geleef het, het die waarde van wysheid bo wêreldse besittings besef. Toe die Here hom vra wat hy wil hê, kies hy nie goud of mag nie, maar wysheid. Hierdie voorbeeld leer ons dat ware insig en begrip slegs van God af kom. Soos dit in Spreuke 16:16 staan:
“Probeer liewer wysheid bekom as goud, liewer insig as silwer.” (Afr. 1983)
Wat is dan die doel van skool? Baie sal sê dis om kennis te verkry en ’n goeie toekoms op te bou en dit is beslis belangrik. Maar vir GSDP gaan dit veel verder. Skool moet ’n plek wees waar leerders toegerus word vir die lewe, nie net om eksamens te slaag nie, maar om met wysheid en geloof die wêreld te betree. Of hulle ná skool gaan studeer, ’n ambag aanleer, of hul dadelik gaan werk, moet hulle die fondasie hê om ligdraers in ’n donker wêreld te wees.
“Wees sterk en vol moed” is nie net ’n slagspreuk by GSDP nie, dit is ’n lewenshouding. Hierdie leuse herinner elke leerling daaraan dat hulle met vertroue en geloof hul roeping kan uitleef. Die skool se benadering is holisties: opvoeding is nie volledig as dit nie die hele mens aanspreek, die liggaam, verstand en gees nie.In Matteus 28:18–20 gee Jesus aan sy dissipels die Groot Opdrag:
“Gaan dan heen en maak dissipels van al die nasies… en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Afr. 1983) Hierdie opdrag geld vandag nog en GSDP sien dit as hul missie om leerders op te voed tot diensbaarheid in hierdie opdrag. Leerders word aangemoedig om nie net kennis te gebruik vir selfverryking nie, maar om Goddelike wysheid na te jaag. Hulle word geleer om vas te hou aan God, selfs wanneer die lewe uitdagings bring. Om koninkrykswerkers te wees, beteken om elke dag doelgerig en met geloof te leef, en om diensbaar te wees waar ook al hulle geplaas word.