By Gereformeerde Skool Dirk Postma staan die onderwysers en leerders slaggereed vir die nuwe skooljaar. Met die aanvang van die nuwe skooljaar deel die skoolhoof, Saskia Meijer, haar visie vir die jaar, asook die waardevolle boodskappe wat sy vir ouers en leerders het.
“Ons grootste hoop vir die nuwe skooljaar is dat ons as skoolgemeenskap met oortuiging kan sê dat ons, te midde van voor- en teëspoed, op God vertrou. Dit is nie net ‘n vae optimistiese verwagting nie, maar ‘n vaste vertroue op God wat altyd betroubaar is,” deel Meijer. Hierdie vertroue is die grondslag waarop die skool gebou is en wat hulle visie vir 2025 vorm.
“Die Here gee aan ons ‘n nuwe jaar met nuwe uitdagings en geleenthede. Hoewel die jaar vol onbekendhede voor ons lê, hoef dit ons nie angstig te maak nie, want daar is vir God niks onbekend nie. Hy regeer oor alles volgens sy ewige raadsplan, ook oor dit wat 2025 vir ons inhou,” sê sy.
Meijer beklemtoon dat ouerbetrokkenheid “één van die bene is waarop hierdie skool gebou is.” Sy verduidelik: “Ons praat van ‘n ouerskool omdat hierdie skool deur gelowige ouers, wat hulle verbondsbeloftes wil nakom, gestig is. Hierdie skool is ‘n verlengstuk van die ouerhuis wat verantwoordelikheid neem om toe te sien dat kinders in die Christelike leer onderrig word.”
Ouers word aangemoedig om betrokke te raak deur middel van ouerkomitees, skoolbestuur, sportaktiwiteite en kultuuraanbiedings. “Voortdurende kommunikasie help dat ouers deel bly van die skool se dinamika.”
Hierdie jaar bied ‘n vol kalender van spesiale geleenthede. Op 17 Mei word die Dopperspele aangebied, wat ook as die skool se Opedag dien. Die viering van Afrikaans se 100-jarige bestaan is ‘n ander hoogtepunt, met verskeie aktiwiteite, insluitend ‘n revue deur die hoërskool in Augustus. Ander spesiale geleenthede sluit in Oupa-en-Ouma-dag, veldskole, Hemelvaart- en Hervormingsdagprogramme, asook sport-en kultuuraktiwiteite.
“Leierskap is ‘n geskenk van God om ordelikheid te bevorder,” sê Meijer. By Gereformeerde Skool Dirk Postma begin hierdie ontwikkeling in graad 7 met basiese leierskapsvaardighede. “In die hoërskool kry kinders kans om leiding te neem in klasverband en deur gespesialiseerde opleiding in graad 11.” Hierdie beginsels lei tot die vorming van gelowige leiers wat “voor loop, hulpvaardig is en goed doen aan almal.”
“Alle orde en dissipline berus in Christus,” benadruk Meijer. “Ons weet kinders het struktuur nodig, en reëls help om die klasomgewing reg te hou. Tog moet hierdie reëls nie kinders moedeloos maak nie. Die doel is altyd om kinders se harte aan te spreek sodat hul gedrag verander.”
Sy voeg by dat berou en bekering in dissipline belangrik is, maar ook dat kinders moet besef almal maak foute en dat vergifnis deur genade ontvang word.
Meijer gee praktiese raad aan ouers: “Begin by huisgodsdiens rondom die etenstafel. Dit is waar kinders se harte oopgemaak kan word. Maak tyd vir saam eet, Bybellees en gebed.”
Wat akademie betref, beveel sy struktuur en roetine aan. “Goeie gewoontes soos ‘n studierooster, gesonde eetgewoontes en genoeg slaap maak ‘n groot verskil. By die skool bied ons ook studiekursusse aan om kinders te help met studievaardighede.”
Juffrou Margriet Visser het 2025 se graad 1’s in die Eendjie-klas verwelkom. Lea Smit ken al haar juffrou se naam terwyl Morné Oelofse sy bal vir die eerste dag saamgebring het.
“Ek sien uit om Wiskunde te leer,” sê Willem Buys, nog ’n nuwe graad 1.
Evan Kok vertel sy pappa het vir hom ’n lekker kosblik met druiwe en ’n broodjie gepak. “Ek sien baie uit na pouse.”
Vir Meijer is dit ‘n voorreg om kinders op alle terreine toe te rus sodat hulle uiteindelik as gelowige volwassenes hulle plek in die samelewing tot eer van die Here kan volstaan.