+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Wintervakansie sonder verveling

Die wintervakansie is lank genoeg om iets sinvols te doen, maar ook lank genoeg om ordentlik uit te rus. Hier is ’n paar idees om die dae goed te benut.

Lees iets wat jy self kies
Nie ’n skoolboek nie. ’n Storie wat jy al lankal wil lees, ’n grafiese roman, ’n biografie van iemand wat jou interesseer, of selfs ’n goeie reeks op jou foon. Wintersdae en ’n goeie storie pas sommer mooi bymekaar.

Leer iets nuuts op YouTube
Soek ’n videohandleiding vir iets wat jy nog altyd wou probeer. Teken, animasie, kook, musiek, fotografie, kodering. Die internet is vol mense wat graag leer hoe om dinge te doen, en jy het die tyd om dit nou te probeer.

Skep iets
Maak ’n kort video, neem ’n paar foto’s, teken ’n karakter, begin ’n storie of bou iets met wat ook al jy in die huis kry. Dit hoef nie perfek te wees nie. Die punt is om iets te maak wat nie bestaan het voordat jy dit gemaak het nie.

Gaan buitentoe
Dis koud, maar dis nie gevaarlik nie. ’n Stappie, ’n fietsrit of net ’n halfuur buite help om jou kop skoon te maak. Jou oë het ook ’n breek nodig van skerms, en vars lug doen meer as wat jy dink.

Leer iets prakties in die huis
Kook ’n eenvoudige maaltyd, leer hoe om jou eie klere te was, of ruim jou kamer reg sodat dit mooi netjies is as die nuwe kwartaal begin. Dit klink dalk nie opwindend nie, maar om orde in jou omgewing te skepm help om beter te fokus. ’n Vaardigheid wat jy in die nuwe kwartaal gaan benodig.

Rus regtig uit
Slaap ’n bietjie later. Sit stil. Sit buite in die wintersonnetjie sonder jou foon. Hierdie deel is nie luiheid nie, dit is nodig. Ons liggame en gedagtes het tyd nodig om te herlaai, veral na ’n lang kwartaal. Psalm 23:2 herinner ons daaraan dat God self sy kinders laat rus langs stil waters. Rus is ’n geskenk, nie iets om oor skuldig te voel nie.

Spandeer tyd met regte mense
Kuier by ’n vriend, gesels met ’n familielid, of speel ’n bordspel saam. Dit is maklik om die hele vakansie deur te bring met mense op ’n skerm, maar dit voed nie die siel soos regte geselskap nie. Spreuke 17:17 sê ’n vriend het altyd lief, en in vakansietyd het ons die kans om daardie vriendskappe te koester.

Die wintervakansie hoef nie gevul te wees nie. Dis goed om dae te hê wat stadiger voel. Maar dis ook goed om terug te keer na die nuwe kwartaal met iets gelees, iets gemaak, iets geleer en ’n bietjie meer rus in jou liggaam.

Nog nuus

+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa