Ons Graad 3-leerders het aan die einde van kwartaal 3 die wonderlike geleentheid gehad om ’n byeplaas van die bekende byeboer, Nico Grobler, te besoek. Dit was ’n besonderse ervaring om van so naby kennis te maak met hierdie klein, maar ongelooflike belangrike skepseltjies.
Die klas is in twee groepe verdeel. Terwyl een groep na ’n interessante skyfievertoning oor bye gekyk het, het die ander groep die korwe besoek. Daarna het die groepe omgeruil. Dit is nogal ’n besonderse gevoel wanneer honderde bye om jou kop zoem, terwyl jy die korwe van naderby bekyk en sien hoe die bye hul heuning maak!
Tydens die skyfievertoning het ons baie interessante feite oor bye geleer. ’n By kan tot 20 verskillende gesigte herken en kan tot 40 km per uur vlieg. Die bye in ’n korf gebruik hul vlerke om die lug te sirkuleer en die temperatuur binne die korf rondom 34,5 °C te hou. Die koningin kan tot 2 500 eiers per dag lê en bepaal selfs of die eiers manlik of vroulik sal wees. Van eier tot volwasse by neem ongeveer 21 dae.
Ons het ook geleer dat ’n hommelby nie kan steek nie, terwyl ’n koningin meer as een keer kan steek. Indien ’n by jou tydens ‘n aanval steek, stel die by ’n feromoon vry wat ander bye lok om ook te steek. As ’n mens deur bye aangeval word, moet jy so vinnig as moontlik hardloop en skuiling in ’n donker plek soek.
Een van die lekkerste dele van ons besoek was toe die leerders die geleentheid gekry het om van boer Nico se rou heuning te proe. Hulle kon verskillende soorte heuning vergelyk, van alwynheuning tot bosveldheuning en ontdek dat elke soort ’n unieke smaak en kleur het. Dit was vir die leerders baie interessant om te sien dat die smaak van heuning kan verskil na gelang van die blomme en plante waaruit die bye hul nektar versamel.
Die besoek het ons laat besef hoe belangrik bye vir ons wêreld is. Met ’n tekort aan byeboere is dit dalk die perfekte tyd om hierdie interessante beroep te oorweeg. Wie weet – dalk word een van ons Graad 3-leerders eendag ’n byeboer!
Sasha-Lee Hemmens
