+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Akademiese uitnemendheid: ’n nuwe hoofstuk vir Dirk Postma

Akademies gaan dit steeds goed met die Hoërskool Dirk Postma! Ons het 2026 op ’n hoogtepunt afgeskop met die uitstekende matriekuitslae van die 2025-groep. Hierdie groep het ook ’n besondere plek in die skool se geskiedenis ingeneem as die laaste matrieks wat die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS) van die Departement van Onderwys afgelê het.

In 2023 het die ouers en lede van die Gereformeerde Skoolvereniging Dirk Postma ’n belangrike besluit geneem: om oor te skakel na die eksamenstelsel van die Independent Examinations Board (IEB). Daar is besluit om die oorskakeling oor ’n tydperk van drie jaar in te faseer. Vanaf 2024 het die nuwe stelsel vir alle grade tot en met graad 10 gegeld, terwyl graad 11 en 12 geleidelik uitgefaseer is. Die matriekgroep van 2026 is dus ons heel eerste groep wat die IEB-eindeksamen aflê – ’n besondere mylpaal vir ons skool! Ons vertrou dat hulle deeglik voorberei is en dat hulle, soos soveel groepe voor hulle, met goeie uitslae sal presteer.

Die afgelope drie jaar was ’n tydperk van groei, aanpassing en nuwe uitdagings vir sowel ons personeel as leerders. Veral vir onderwysers het die oorskakeling in sekere vakke groot aanpassings geverg. Nuwe assesseringsmetodes moes ontwikkel word en daar moes opnuut indringend met vakinhoud gewerk word. Hoewel die kurrikulum (KABV) onveranderd gebly het, plaas die IEB se benadering tot assessering groter klem op probleemoplossing, kritiese denke en kreatiwiteit. Dit het van onderwysers én leerders gevra om op nuwe maniere te dink en te werk.

Om hierdie uitdagings suksesvol die hoof te bied, het ons personeel veral die afgelope twee jaar doelbewus geleenthede vir professionele ontwikkeling aangegryp. Daar is nou saamgewerk met onderwysers van ander IEB-skole, konferensies en opleidingsgeleenthede is bygewoon, en van ons vakonderwysers was selfs betrokke by die nasien van die 2025-IEB-matriekeindeksamen. Hierdie waardevolle ervarings het ons onderwysers verder toegerus en met groter selfvertroue die nuwe fase laat aanpak.

Ons kyk met dankbaarheid terug op die harde werk, deursettingsvermoë en toewyding van die afgelope drie jaar. Ons glo dat die grondslag nou stewig gelê is en dat ons vanaf 2027 met nuwe vertroue kan voortbou op dit wat reeds bereik is.

Gereformeerde Skool Dirk Postma was nog altyd, en bly steeds, ’n skool waar akademiese uitnemendheid hoog aangeslaan word! Bo alles kom ons met opregte dankbaarheid voor die Here vir sy troue sorg, leiding en seën oor ons skoolgemeenskap – ons leerders, ouers en personeel – gedurende die afgelope 39 jaar sedert die skool se ontstaan, en in besonder die 28 jaar van ons hoërskool se bestaan.

W. Bouwmeester
Fasehoof: Graad 10–12

Nog nuus

Kaskar en Feesweek

Die kaskar en Feesweek sorg gewoonlik vir baie pret en plesier. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Die Graad 11 diensraad het hulle puik van

Lees meer »

+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa