+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Kaskar en Feesweek

Die kaskar en Feesweek sorg gewoonlik vir baie pret en plesier. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Die Graad 11 diensraad het hulle puik van hulle taak gekwyt en ’n goed georganiseerde week en dag beplan en uitgevoer.

Die enjins het nie eers op Vrydag begin warm word nie. Die diensraad het die hele week as ’n feesweek aangebied, met die tema RACES. Elke letter was ‘n eie aantrekdag. Maandag was Road worker-dag en Dinsdag het Area-dag die skool in ’n Grand Prix-sirkus op wêreldtoer verander, vol sombrero’s, poncho’s, vlae en kopdoeke. Op Checkered-dag kon daar skaars onderskei word tussen skaakbord en mens, terwyl die diensraad op hul knieë ’n reuse geruite vlag geverf het. Elegant-dag het bewys dat ’n kampioen ook goed moet lyk op die podium, en Span-dag het alles na die groot wedren gelei.

Op 18 September breek die kaskardag eindelik aan. Laerskool Dirk Postma se terrein word ’n Formule 1-baan, met gras as baan, ’n gazebo as pitstop en spierkrag as enjin. Die graad 7’s het as Alpine in pienk tutu’s hulle kaskar gestoot dat hulle wange bol staan en die graad 8’s het in Mercedes-silwer en -swart so koel soos kampioene gelyk, met radio’s om met die kuipe in verbinding te bly. Die graad 10’s was Red Bull in navy, want vlerke kry jy nie verniet nie. Die graad 11’s het as Ferrari die terrein rooi geverf, en die matrieks was McLaren in oranje. Die kaskarre was meesterstukke van ingenieurswese (en kleefband en ballonne), terwyl spanmaats gestoot het asof die wêreldtitel op die spel was. Die diensraad se geruite vlag het gewapper, en selfs die grassnyer het ’n draai as “veiligheidskar” gemaak, maar net een kleur het bo-aan die podium gestaan: die graad 9’s het in Aston Martin-groen as oorwinnaars uit die stryd getree en bewys dat groen nie net die kleur van die gras is nie, maar ook van kampioene! Geesweek 2026: met Dirk Postma-trots op vol spoed!

Nog nuus

Kaskar en Feesweek

Die kaskar en Feesweek sorg gewoonlik vir baie pret en plesier. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Die Graad 11 diensraad het hulle puik van

Lees meer »

+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa