+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

’n Gemeenskapsdag word ’n gemeenskapsprojek

Gelowiges het die opdrag om rentmeesters te wees en om naasteliefde uit te leef. By GSDP is dit opdragte wat ons aan ons kinders wil leer. Ons hou elke jaar ’n gemeenskapsdag met die graad 8- en 9 leerders, waar ons hul na organisasies binne die gemeenskap neem waar hul betrokke kan raak. Die graad 8’s het vanjaar saam met die Vriende van die Magalies gewerk om ’n deel van die Magaliesberg te gaan opruim van onkruid en bourommel. Die graad 9’s het kos ingesamel vir die instansie Moeggesukkel, wat huisvesting bied aan hawelose mense. Uit hierdie gemeenskapsdag het iets baie groters ontwikkel.

’n Nuwe tendens in die onderwys is verskynselgebaseerde leer. Verskynselgebaseerde leer is ‘n onderrigbenadering waar leerders vanuit ‘n werklike verskynsel, probleem of gebeurtenis leer. In plaas daarvan om vakinhoud afsonderlik te bestudeer, word kennis en vaardighede uit verskillende vakgebiede geïntegreer om die verskynsel te ondersoek, te verstaan en oplossings te ontwikkel. Leerders leer deur waarneming, navorsing, samewerking, kritiese denke en praktiese toepassing. Die fokus is daarop om leer betekenisvol, relevant en met die werklike wêreld verbind, te maak. Ons het hierdie idee gebruik en ‘n “Verskynselgebaseerde ondersoekende leerprojek” met die graad 8’s en 9’s gedoen, met twee belangrike ondersoekvrae wat aan die leerders gestel is:

Graad 8: Hoe kan ons rentmeesters wees van God se skepping?

Graad 9: Hoe kan ons ons verantwoordelikheid teenoor ons naaste uitleef?

Leerlinge moes binne die verskynsels van natuurbewaring (graad 8) en haweloosheid (graad 9), probleme identifiseer wat hul waargeneem het tydens die gemeenskapsdag-uitstappies. Uit die probleme moes hul moontlike oplossings identifiseer, en uiteindelik die beste oplossing gaan uitvoer.

Die projekte is afgesluit met ’n baie geslaagde ekspo wat op 3 November gehou is, waar die leerlinge kon uitstal en vertel wat hul gedoen het. Die doel van die ekspo was nie om te spog nie, maar om in dankbaarheid teenoor die Here te toon watter gawes Hy ons gegee het om te kan arbei in Sy koninkryk.

Nog nuus

Leiers wat dien

Leierskamp by Adventure Peaks, 13–14 Augustus 2026 Deur Mariska vd Wetering Op 13 en 14 Augustus het ons 34 nuwe diensraadlede twee dae by Adventure

Lees meer »

Ons dien: Vlamvang

Die Ratels vang die vlam! In 2026 het ons skoolimpieks kompetisie vir die eerste keer behoorlik vlamgevat. Die idee is deur die Dagbestuur van 2025

Lees meer »

+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa