Kwartaal drie het die begin van ons projekgebaseerde leeropdragte gemerk, met “Tipes boerderye” as die tema vir die graadgroepe. As deel van hul projek het die Graad 4-leerders ’n uitstappie na die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument onderneem.
Met ons aankoms was die diere sommer dadelik ’n groot aantrekkingskrag, veral die boerbokkies! Die dag se aktiwiteite het begin met die maak van hul eie ketties. Die leerders het gou besef dat dit nie so maklik is nie en kon só ervaar hoe mense in die ou dae hul eie gereedskap moes maak.
Daarna het hulle die geleentheid gekry om met die ketties te skiet en blikkies te probeer omstamp. Boeresport, met toutrek en sakresies, het vir groot pret gesorg.
Later het hulle geleer hoe om stokbrood te maak en kon hulle ook vrae vra vir hul projekte. Die stokbrood was natuurlik ’n groot treffer, dalk was dit die stroop wat almal so entoesiasties gemaak het!
Ná ’n heerlike ete en ’n bietjie vrye tyd het ons die sentrum besoek om meer te leer oor hoe die Voortrekkers geleef het.
Dit was beslis ’n leersame en onvergeetlike dag vol nuwe ervarings, ontdekking en hope pret!
