+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Dopperspele en Opedag verloop geseënd

Saterdag, 16 Mei, was ’n besondere dag op die terrein van die Gereformeerde Skool Dirk Postma. Die skool se gronde het gewemel van besoekers toe die jaarlikse Dopperspele en die skool se Opedag gelyktydig plaasgevind het. Vir hierdie tweevoudige voorreg is ons opreg dankbaar.

Die Opedag het onder die tema “Lig” plaasgevind, ’n tema wat diep gewortel is in die Skrif. Dit wys op die Here Jesus Christus wat die Lig van die wêreld is, asook op sy Woord wat ’n lamp vir ons voet en ’n lig op ons pad is. Onderwysers en leerders het met geesdrif saamgestaan om die skool se aanbod te wys. Van graad RRRR tot graad 12 was daar aktiwiteite en stalletjies waar alle vakke, sportsoorte en kultuuritems wat by Dirk Postma aangebied word, op treffende wyse uitgebeeld is. Talle voornemende Dirkies en hul ouers het die geleentheid benut om met eie oë te sien wat hierdie skool alles te bied het.

By die Dopperspele het 24 gemeentes in elf items teen mekaar meegeding. Dit was lekker om te sien hoe ‘n gees van gesonde sportsmanskap geheers het, en ewe mooi was dit om te aanskou hoe nuwe vriendskappe oor gemeentegrense heen gesmee is. Na ’n dag vol spanning en pret het GK Rietvallei as algehele wenners uit die stryd getree. GK Die Kandelaar het die tweede plek verower, terwyl die APK in die derde plek geëindig het. Ons wil elke gemeente hartlik bedank vir hul deelname en die gees waarmee hulle meegeding het.

Diegene wat dit vanjaar misgeloop het, kan reeds in hul dagboeke aanteken: die volgende Dopperspele vind DV op 15 Mei 2027 plaas.

 

Nog nuus

+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa