Christelike wetenskapbeskouing

Wat is wetenskap?

Die oorspronklike definisie van wetenskap is om kennis te verwerf. Beoefening van wetenskap vind dus in alle vakgebiede plaas, nie net in natuurwetenskap nie. ‘n Algemene definisie van wetenskap is die volgende: Wetenskap bestaan uit observasie van die wêreld deur kyk, luister, observeer en optekening. (NASA)

Wetenskap is die sistematiese observasie, skepping, analisering en modellering van patrone wat in die fisiese heelal bestaan.

Twee soorte wetenskap:

Operasionele wetenskap: wetenskap wat in ‘n laboratorium gedoen word oor hoe die wêreld werk. Dit word gebaseer op wat gesien of ervaar kan word op ‘n gegegewe oomblik.

Historiese wetenskap ondersoek dinge wat in die verlede gebeur het. Eksperimente kan egter nie in die verlede gedoen word nie, so hierdie wetenskap kan nie getoets word nie. Dit word gebaseer op aannames.

Operasionele wetenskap word daagliks gedoen in die hede. Historiese wetenskap moet ondersoek word na aanleiding van bewyse of ooggetuies. Daarom is dit belangrik om die Bybel te gebruik as bron in die bestudering van historiese wetenskap.

Geloof en wetenskapbeskouing kan nie geskei word nie. Om dit te skei, beteken om God uit te sluit uit die wetenskap. God het die wêreld so geskape dat sy skepping Hom bekend maak / getuig van Hom. ‘n Geordende skepping maak slegs sin as dit geskep is deur ‘n geordende Skepper. Wetenskap moet vanuit die Skrif verklaar word. Wanneer ons wetenskap bestudeer moet ons onsself afvra: Hoe openbaar God homself in dit wat ons bestudeer? Ons kan nooit wetenskap losmaak van ons geloof nie. Wetenskap moet vanuit ‘n geloofsuitgangspunt bestudeer word, en nie andersom nie. As ons die Skepper van die skepping nie ken nie, kan ons nie die skepping leer ken en verstaan nie. God gee ons in Genesis 1:28 toestemming om die skepping te ondersoek: “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.’”

Deur wetenskap te bestudeer, bestudeer ons die wysheid van God op alle lewensterreine. En die doel waarom ons dit doen, is om God in sy skepping beter te leer ken.

Wanneer ons wetenskap aan kinders moet oordra, is dit uiters belangrik dat ons nie wetenskap en die Bybel van mekaar skei nie. As ons nie wetenskap oordra vanuit Skriftuurlike beginsels nie, en as die wetenskap wat ons die kinders leer, nie uit die Skrif kan verifieer nie, gaan kinders verward raak. Dit kan daartoe lei dat hul dit wat in die Skrif staan, begin betwyfel as die waarheid. As ons byvoorbeeld verkeerde evolusie in lewenswetenskap, natuurwetenskap of geografie onderrig (bv dat die aarde miljoene jare oud is), dan weerspreek dit die skeppingsverhaal en dit wat in Genesis 1 tot 11 aan ons geopenbaar word. As die kinders die begin van die Bybel nie as gesagvol en waar aanvaar nie, kan dit daartoe lei dat hul later in hul lewens die gesag van die hele Bybel in twyfel trek.

Deur korrekte onderrig van wetenskap vanuit die Skrif, leer onderwysers die kinders van God se wysheid en die gesag van die Skrif, wat kan dien tot versterking van hul geloof, eerder as om hul te verwar en te laat twyfel.

Geskryf deur mev Wenny Bouwmeester

Departementshoof Graad 10 – 12

Bibliografie

Bisschoff, P. 2013. Boustene vir Christelike normatiewe onderwys. Pretoria: Aros uitgewery.

Bisschoff, P & Van der Kooy, R. 2019. Christelike onderwys in praktyk. Pretoria: Koers

Hughes, E & Sanders, L. 2015. What is science? Beskikbaar op https://creation.com/what-is-science. Besoek op 04/11/2023

Mickens, R & Patterson, C. 2016. What is Science? Georgia Journal of Science Volume 74 no. 2

Sarfati, J. 2010. The biblical roots of modern science. Beskikbaar op https://creation.com/biblical-roots-of-modern-science. Besoek op 04/11/2023

What is Science? 2021. Beskikbaar op https://spaceplace.nasa.gov/science/en/. Besoek op 04/11/2023

Nog nuus