+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Alumnus van die maand: Elize Kirsten

Elize Kirsten het in 2007 gematrikuleer en doseer tans by die Universiteit van Pretoria.

Vertel ons ’n bietjie van jouself: wie is jy, waar kom jy vandaan, en watter jare was jy by Dirk Postma?My naam is Elize Kirsten, dogter van Willem en Mari Kirsten. Ek’s ’n gebore Pretorianer, en bly tans in die lieflike Moot. Ek het in 2007 gematrikuleer en was van Gr 1 tot matriek in Dirk Postma.

Wat is jou mooiste herinnering van jou tyd by die skool?
Daar is soveel mooi herinneringe aan die skool en my skooljare. Een van die grootste gebeurtenisse was toe die skool die eerste permanente klaskamers gebou het – die opgewondenheid toe ons in 1998 bo in die dubbelverdieping kon intrek! Daar in die boonste klaskamers het ons baiemaal Psalms met beurtsang gesing, veral Psalm 128 vers 3 en 4. Iemand moes gou na die klas langsaan hardloop om vir die juffrou te vra of hulle klas gereed is. Dan begin die eerste klas om die eerste reëltjie van die vers te sing, maar hard genoeg sodat die ander klas kon hoor, want hul moet die volgende reëltjie sing. Ek kan sommer hoor hoe dit oor die terrein weergalm: “Mag ryke seëninge … uit Sion jou bedou … ”.

Watter onderwyser het die grootste indruk op jou gemaak, en hoekom?
Daar was in elke fase van grootword mense wat gehelp het om ons te vorm en te leer. Juf Carli Buys het waarskynlik die grootste invloed gehad – sy was bereid om my te help om rekeningkunde eers in Gr 11 te begin, en dit nog as ’n ekstra vak. Later het dit die fondasie van my studies en loopbaan geword! Juf Mariska vd Wetering het die saadjie geplant toe sy hoor dat ek nie rekeningkunde geneem het nie, en Mnr Philip Minnaar het ingestem dat ek helfte van sy periodes kon gebruik om ’n ekstra vak te neem.

Was jy betrokke by enige buitemuurse aktiwiteite, sport of kultuur? Wat het dit vir jou beteken? 
Ja! Ek het aan als wat ek kon by die skool deelgeneem, veral die sport van die seisoen. Wat is lekkerder as om buite in die son te baljaar, of saam met jou maats te oefen vir die skoolkonsert?

Hoe het die Christelike waardes en gereformeerde grondslag van die skool jou gevorm: as mens, as werker, as gesinsmens?
Die grootste deel van vorming gebeur in die ouerhuis, maar die skool het beslis gereformeerde waardes vasgelê en ingeoefen. Mens besef eers hoe groot voorreg dit is om elke dag by die skool saam met mede-gelowiges te werk en saam tyd met die Woord te spandeer wanneer mens nie meer daar by die skool is nie.

Was daar ’n spesifieke oomblik of les wat jou geloofslewe of lewensuitkyk verander het?
Nee, eerder gereelde inskerping van die Woord by die huis en skool, en later as belydende lidmaat by die kerk en Bybelstudie.

Wat doen jy tans: beroep, studies? 
Ek is ’n senior dosent in Finansiële Bestuur aan die Universiteit van Pretoria. Ek is die koördineerder van die BComHons in Finansiële Bestuur-graad asook die internasionale professionele kwalifikasie van die Chartered Institute of Management Accountants.

Watter vaardighede of karaktereienskappe uit jou skooljare gebruik jy vandag nog elke dag?
Om te werk vir die Here en nie vir mense nie. Dit bring die hoop in die wêreldse omgewing waar mens maklik moedeloos kan raak, of vasgevang in gejaag na geld en wêreldse dinge.

Waarop is jy die trotste sedert jou skoolloopbaan?
Ek dink nie trots is die gepaste woord nie. Eerder dankbaar. Ek is baie dankbaar vir die vele gawes en geleenthede wat die Here aan my gegee het. Daarmee kon ek aan groot projekte deelneem, prestasies behaal en ’n paar wêreldreise meemaak.

Wat sou jy vir ouers sê wat oorweeg om hul kinders by Dirk Postma in te skryf?
Om ons kinders in die verbond van die Here groot te maak, is die ouers se plig, dit hoor ons elke keer met die doop. GSDP is ’n hulpmiddel van onskatbare waarde om dit te doen, wat daarby allerhande ander geleenthede in akademie, sport en kultuur ook vir jou kind bied. 

Wat sou jy vir huidige leerders wil sê wat nog in die skool is?
Gryp elke geleentheid aan, jy weet nooit wat dit vir jou in die toekoms kan oplewer nie. Mens kan dit nie beter as Prediker sê nie: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug!”

As jy die skool in een sin moes opsom, wat sou jy sê?
O, laat die Waterstroom ons voed, sodat ons sterk is en vol moed!

Nog nuus

+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa