+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Graad 12-uitstappie na die Hartbeespoortdam-kabelkar

Op Woensdag, 29 Julie 2026, het ons Graad 12-leerders saam met Juffrou Lynni en Juffrou Petra ’n opvoedkundige uitstappie na die Hartbeespoortdam-kabelkar onderneem. Die doel van die uitstappie was om kennis uit twee vakke, naamlik Geografie en Wiskundige Geletterdheid, prakties buite die klaskamer toe te pas.

Geografie en Wiskundige Geletterdheid het baie raakpunte, onder andere kaartwerk, rigting, afstande, plantegroei en die berekening van koste. Juffrou Lynni en Juffrou Petra het spesiaal vir hierdie uitstappie ’n geïntegreerde werkkaart saamgestel waarin die inhoud van albei vakke gekombineer is. Dit het aan leerders die geleentheid gebied om hul kennis in ’n werklike omgewing toe te pas.

In die klaskamer werk leerders dikwels met kaarte, foto’s en voorbeelde op papier. Tydens hierdie uitstappie moes hulle dieselfde vaardighede in die praktyk gebruik. Teorie het sodoende ‘n werklike konteks gekry, wat leerders help om te verstaan waarom hierdie kennis belangrik is. Wat hulle met hul eie oë sien, self ervaar en bereken, word baie makliker onthou. Die uitstappie het ook beklemtoon dat skoolvakke nie in afsonderlike “boksies” bestaan nie, maar dat dit in die alledaagse lewe nou met mekaar verweef is.

Die leerders het met entoesiasme deelgeneem, goeie vrae gevra en die take met ywer aangepak. Die kabelkar rit was vir baie van hulle ’n besondere ervaring – vir sommige selfs die eerste keer. Bo-op die berg het die leerders aan ’n opwindende Amazing Race deelgeneem, waarna die wenspan met ’n heerlike prys beloon is. Daarna was daar ook tyd om saam middagete te geniet en die pragtige uitsig oor Hartbeespoortdam te bewonder.

As Christelike skool is ons dankbaar vir die geleentheid om God se skepping van nader te beleef. Die uitstappie het nie net akademiese kennis versterk nie, maar ook opnuut gewys hoe die orde en patrone in Sy skepping vakke met mekaar verbind.

Ons is dankbaar vir ’n geslaagde dag vol leer, avontuur en samesyn, en ons hoop om, so die Here wil (DV), volgende jaar weer so ’n waardevolle uitstappie te kan aanbied.

Nog nuus

Kaskar en Feesweek

Die kaskar en Feesweek sorg gewoonlik vir baie pret en plesier. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Die Graad 11 diensraad het hulle puik van

Lees meer »

+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa