+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Graad 12-Kunsuitstappie: ’n Verrykende Ervaring buite die Klaskamer

Die Graad 12-kunsleerders het op Woensdag 18 Maart ’n opvoedkundige kunsuitstappie onderneem as deel van hul kurrikulumverryking en voorbereiding vir die finale eksamen. Hierdie uitstappie het aan die matrieks die unieke kans gebied om teoretiese konsepte uit die klaskamer in ’n praktiese en professionele omgewing te aanskou.

Die groep het eers die Wits Art Museum (WAM) besoek, waar hulle ’n baie leersame begeleide toer deur die galery ontvang het. Die hooffokus van die besoek was die indrukwekkende uitstalling van Bill Ainslie se werk. Die leerders is blootgestel aan Ainslie se kenmerkende abstrakte styl en emosionele kleurgebruik, in sy grootskaalse werke. Benewens Ainslie se werk, het die uitstalling ook die ryk invloed van ander historiese Suid-Afrikaanse kunstenaars belig. Die leerders was veral gefassineer deur die fyn pen- en sketswerk van Leonard Matsoso en om die emosionele werke van Dumile Feni self te kan beleef. ’n Besondere hoogtepunt wat groot indruk gemaak het, was die collage-werk van Sam Nhlengethwa (Soweto Bus). Die hoogs kreatiewe en persoonlike aard van Nhlengethwa se medium- en materiaalkeuses het ’n direkte impak gehad op die leerders se eie kreatiewe denke.

As deel van die kuns-historiese verkenning deur die stad, het die roete die groep ook toegelaat om verby Gerard Sekotostraat te ry, wat gehelp het om die nalatenskap van hierdie ikoniese Suid-Afrikaanse kuns-pionier tasbaar te maak.

Die roete tussen die museum en Rosebank is verder omskep in 'n dinamiese, visuele gevallestudie. Die leerders het aktief uitgekyk na die ryk en besonderse straatkuns waarvoor Johannesburg bekend is. Terselfdertyd het die rit deur kontrasterende areas soos Hillbrow en Parkhurst die leerders diep geraak. Hulle kon die skreiende sosio-ekonomiese verskille tussen armoede en rykdom wat langs mekaar bestaan, visueel waarneem. Hierdie eerstehandse blootstelling het as kragtige konsepte gedien wat kuns as 'n spieël van die samelewing weerspieël.

Na hierdie intensiewe visuele verkenning is die uitstappie afgesluit met 'n middagete-stop by die Rosebank Mall, waar die leerders die unieke, kosmopolitiese atmosfeer van Johannesburg kon beleef en die diverse sosio-kulturele dinamika van die stad in hul rol as kunsstudente kon inneem.

Dit was veral verblydend om te sien hoe hierdie blootstelling in die klaskamer vrugte gedra het. Tydens hul opvolgnavorsing en die praktiese uitvoering van hul eie kunswerke (PAT), het verskeie leerders elemente van hierdie mediums, tegnieke, emosionele kleurteorieë en sosio-politieke temas by hul eie matriekprojekte geïntegreer. Dit onderstreep juis waarom dit so krities noodsaaklik is dat leerders kuns eerstehands ervaar. Dit is immers maklik om in die klaskamer oor abstrakte werk te praat, maar solank as wat dit bloot ’n prentjie in ’n handboek bly, voel dit dikwels vir ’n leerder na iets 'wat ek ook kan doen'. Daar is egter ’n onmiskenbare grootsheid daaraan om fisies voor ’n massiewe abstrakte kunswerk te staan en emosioneel aangeraak te word deur die tasbare gebruik van kleur en tekstuur. Net so kan ’n fyn penskets in ’n handboek soos ’n koue, gedrukte reproduksie lyk; maar wanneer ’n mens voor die oorspronklike skets staan en die werklike tekenmerke sien—amper asof jou eie hand daardie lyne trek—verander die hele belewenis en waardering radikaal. Elkeen van die leerders het aanklank gevind by ’n ander kunswerk; elkeen het met ’n eie vooropgestelde idee daarheen gegaan en met ’n ryker, dieper ervaring daaruit weggeloop. Dit is presies die kern en doel van hierdie uitstappies: dat hulle self kan sien, voel en ervaar wat kuns werklik kan beteken.

Hierdie tipe uitstappies bly dus ’n ryk en betekenisvolle komponent van die Visuele Kunste-kurrikulum, wat leerders dwing om buite die grense van die handboek te dink.

Me Jokie Boshoff

Nog nuus

Kaskar en Feesweek

Die kaskar en Feesweek sorg gewoonlik vir baie pret en plesier. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Die Graad 11 diensraad het hulle puik van

Lees meer »

+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa