Deur Sanmari Venter
Wanneer mense aan Besigheidstudies dink, dink hulle dikwels aan hope leerwerk en baie teorie. Maar teorie kry lewe in die praktyk. Ons besoek en ondersoek ondernemings, ontwikkel nuwe produkte en pak uitdagings aan wat leerders aanmoedig om kreatief te dink, behoorlik te beplan en banksyfers in wins om te skakel. Hulle leer om soos entrepreneurs na ’n probleem te kyk, die geleentheid daarin raak te sien en hul idees in die praktyk te toets en uit te voer.
In alles vra ons steeds hoe ons die gawes wat God aan ons toevertrou het, verantwoordelik kan gebruik. As kroon van sy skepping is ons geroep om dit wat Hy aan ons gee, met sorg te bestuur. In Besigheidstudies kry leerders die geleentheid om dié rentmeesterskap uit te leef wanneer hulle hul talente gebruik om probleme op te los en ander te dien.
1. Die restaurantbedryf as tema van die jaar
In ons IEB Besigheidstudiekurrikulum gebruik ons ’n jaarlikse tema om die leerinhoud aan ’n bepaalde bedryf te verbind. Vanjaar was die restaurantbedryf ons vertrekpunt. Leerders moes verstaan hoe ’n restaurant werk en dié kennis in klasaktiwiteite én in hul vraestelle toepas.
Om dit meer prakties te maak, het ons Kleinkaap Boutique Hotel besoek. Die funksiekoördineerder het ons deur die restaurant geneem en verduidelik hoe die verskillende afdelings saamwerk. Daarna het die leerders self hand bygesit en gehelp om vir die volgende funksie voor te berei. Leerders het kans gekry om te dien en nie net te ontvang nie. Die grootste uitdaging was om tussen al daardie heerlike kos te staan met ‘n maag wat al grom van die honger.
Ná die oggend by Kleinkaap het ons by Irene Farm (ʼn melkboerdery) middagete geniet. Daar kon ons ’n tweede onderneming vanuit die kliënt se oogpunt beleef, en eerstehands die effek van bek-en-klouseer op plaaslike restaurante sien. Die uitstappie het die leerders laat ervaar hoeveel werk agter goeie diens skuil en hoe dit voel om self daardie diens te lewer.
2. ’n Jong Entrepreneur se ontdekkingsreis
Op 8 Augustus het die leerders vroeg met ’n Kragdag-paspoort in die hand, vanaf die skool vertrek. Die vrae daarin het hulle gehelp om dit wat hulle deur die jaar oor entrepreneurskap, bemarking, produksiebestuur en veranderende tegnologie geleer het, by die ekspo prakties te ondersoek. Hulle het entrepreneurs uitgevra, verkoopsvernuf en kliëntediens beoordeel en gekyk wat ondernemings ’n voorsprong bo hul mededingers gee. Hulle moes ook voorbeelde van volhoubare sakepraktyke identifiseer.
Vir verskeie leerders het die gesprek oor rentmeesterskap by die Kopskuif-ateljee uitgestaan. Dit het hulle laat nadink oor die plek van wins in ’n onderneming. Wat wil ek met die wins bereik? Hoe sorg ek vir die mense wat eendag onder my leiding werk? Hoe kan ’n onderneming iets aan sy werknemers en die gemeenskap teruggee? Dis hier waar leerders die teorie en Bybelse besigheidsbeginsels wat hulle in die klas leer, in die praktyk deur ander ondernemings rondom ons ʼn werklikheid sien word.
Die Kragdag-tema, “Druppels word strome, strome word riviere”, het ná die uitstappie verder voortgeleef toe die leerders hul eie klein begin moes maak. Die graad 10-leerders het ’n onderneming wat hul aandag getrek het, gekies en dit bemark. Die graad 11-leerders het geleer om te woeker met hulle eie talente en moes die R100 wat hulle aan die begin van die ekspo ontvang het, binne 2 weke vermeerder. Gereed om nuwe geleenthede in die mark raak te sien en hul idees in die praktyk te toets ontstaan ’n nuwe druppel in ons eie Besigheidstudieklas – die BS- Braaispeserye-idee, ’n tradisionele familieresep wat gelê en wag het om raakgesien te word. Ons wens is dat die nuwe jong entrepreneurs se druppel ook ’n stroom sal vorm en met genoeg tyd en deursettingsvermoë, hoop ons dat dit die rivier sal bereik. Ondersteun hulle gerus en bestel by Vonri Heikens 062 029 5772. Ons hoop verder dat hulle ander mag inspireer en motiveer.
3. Terugvoer van die kliënte self
Ons leer dat ’n onderneming na sy kliënte moet luister om te weet of dit aan hul behoeftes voldoen. Daarom het ons dieselfde beginsel in ons klas toegepas en die leerders gevra om hul Besigheidstudieservaring van die jaar te beoordeel. Hier volg ’n paar uittreksels uit hul terugvoer, onder meer wat die hoogtepunt van Besigheidstudies hierdie jaar was.
“Die hoogtepunt van hierdie jaar was definitief al die uitstappies waarmee ons juffrou ons verras en mee bederf het.”
“Ek het geleer/was weer herinner dat al ons talente, gawes en geleenthede alleen van God kom en dat als wat ons het aan Hom behoort. Alles wat ons tot dusver kon regkry is alleen omdat God vir ons die geleenthede en krag gegee het om dit te kan doen.”
“My hoogtepunt was Kragdag. Ek het baie geleer by die praatjie oor rentmeesterskap, wat ek nie vantevore geweet het nie.”
“Die waardevolle dinge wat ek geleer het, is die lesse wat ons geleer het in die boek Gekroon tot Diens. Daarby is die vreemde ervaring dat ek die werk wat ons in Besigheid leer in my ander vakke sien en selfs kan toepas, veral die bestuur en professionele goed.”
“Tydens die uitstappies het ek geleer hoe om met vreemdelinge te praat, veral as introvert het dit my goed gedoen. Ek het ook geleer hoe restaurante intern werk en dit maak jou oë oop vir die kompetisie tussen mededingende restaurante.”
“Besigheids is nie net ʼn vak nie, maar leer jou ook hoe om jou lewe as ʼn Christen-entrepreneur te navigeer in ʼn wêreld gefokus op wins.”
“Kragdag was die lekkerste, want ek het baie geleer met die taak wat ons gehad het.”
“Besigheids het gemaak dat ek anders kyk na entrepreneurskap en ek wil miskien eendag in die rigting ingaan.”
“Die hoogtepunt van Besigheids dié jaar was Kragdag met sy taak. Ek het dit geniet om ons eie besigheid te begin en die proses daaruit. (Ek het geleer) dat jy jou visie met moeite kan bereik.”
“Die manier waarop ons alle besigheidsbeginsels prakties toegepas het.”
“Dat ʼn mens ʼn verskil moet wees in die wêreld.”
“Al die jong entrepreneurs met uitstekende kreatiewe idees. Hulle het my geleer dat ʼn mens risiko’s moet neem om suksesvol te wees, en dit veral op ʼn jong ouderdom toepas.”
“Dat die beginsels dieselfde bly. Die teorie van besigheidswerk word presies so in die buitewêreld toegepas.”
“Hoe om ʼn uitstekende leier te word (veral ʼn Godsvresende leier wat sorg vir sy werkers).”
Hier leer ons nie net nie, hier woeker ons, vind kreatiewe oplossings en maak besigheid deel van die alledaagse lewe om ons. Ons jaag nie woekerwins na nie, maar leer hoe om as ware rentmeesters op te tree, selfs oor die klein bietjie waaroor ons nou aangestel is, want ons ons is gekroon tot diens.