‘n Klas buite die klaskamer sit ‘n glimlag op menige leerder se gesig! Een van my graad 11-leerders vra byna elke dag: “Juffrou, mag ons buite gaan klas hê?” Want hoewel kennis en vaardighede binne die klaskamer aangeleer word, vind ware leer dikwels plaas wanneer leerders dit prakties kan toepas en self ontdek.
Geografie leen hom uitstekend tot buiteklasonderrig. Aardbewings, vulkane, wolke, koue fronte, konveksiereën en gronderosie is nie bloot teorie in ‘n handboek nie, dit is verskynsels wat daagliks iewers in die wêreld plaasvind. Ons kan dus voortdurend na nuwe voorbeelde in die werklike wêreld gaan soek.
Die graad 12-tema oor die informele sektor word byvoorbeeld baie meer betekenisvol wanneer leerders onderhoude met informele handelaars voer. Deur hul stories, werksomstandighede en uitdagings te leer ken, ontmoet hulle die mens agter die straatverkoper of motorwag. Só word teorie iets wat hulle nie maklik vergeet nie.
Selfs die moeilike begrip van die Corioliskrag kan in ‘n speelparkie met ‘n bal en ‘n rondomtalie prakties verduidelik word.
Die Magaliesberg is nog ‘n waardevolle klaskamer. Deur die berg te klim, kan leerders homoklinale landskappe, die eskarp- en duikhelling, asook stedelike verskynsels en besoedeling eerstehands bestudeer.
Daar is soveel geleenthede om buite die klaskamer te leer. Soms hoef ons net die klaskamers se deure oop te maak en leerders aan te moedig om op te kyk, af te kyk en rondom hulle te kyk. Want die wêreld is veel groter as die vier mure van ‘n klaskamer. Dit is ‘n lewende handboek waarin God se wonderbaarlike skepping elke dag voor ons ontvou. As ons leerders kan leer om met nuuskierigheid te kyk, met verwondering te ontdek en met waardering te verstaan, gee ons hulle soveel meer as net kennis, ons kweek ‘n lewenslange liefde vir leer.