+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Dirkies skitter in die Rapportryers se Bybelvasvra-finale

Na harde werk en baie seën van die Here het drie van ons hoërskoolbybelvasvraspanne deurgedring na die finale rondte by Udolphu-rivierplaas.

Elf opgewonde leerders, saam met twee onderwysers, het Vrydagoggend vroeg met ‘n bussie vertrek op pad na die Vrystaat. Om die naweek op ‘n verfrissende noot af te skop, het ons eers ‘n draai gemaak by ‘n waterpark, net buite Parys, waar almal ‘n bietjie verligting van die erge hitte en skroeiende son kon kry. Teen 15:00 het ons by Udolphu aangekom en ingeboek. Die meisies, seuns en onderwysers het elkeen hul eie huisie langs die Vaalrivier gekry.

Vrydagaand is ons bederf met ‘n heerlike Bybelse ete, waarvoor almal Bybelse klere aangetrek het. Saterdagoggend was die ywer vir Bybelkennis reeds vroeg duidelik toe van die leerders al teen sonsopkoms op ‘n vasgemeerde vlot gaan sit het om hul toegekende Bybelboeke nog ‘n laaste keer deur te gaan.

Om 10:00 het die spanning behoorlik in die saal begin opbou toe tien laerskoolspanne en vier hoërskoolspanne teen mekaar te staan kom het. Ses verskillende tipes Bybelvrae het op die spanne gewag, en dit was duidelik dat dit nie ‘n maklike uitdaging sou wees nie!

Die vrae was uitdagend en het elke span behoorlik op hul tone gehou. Ons was dus aangenaam verras toe die goeie nuus tydens die prysuitdeling bekend gemaak is: twee van ons spanne het onderskeidelik die eerste en tweede plek behaal! Met kontantpryse, geskenksakkies, balkies en trofees was daar groot opgewondenheid en breë glimlagte. Ons leerders het voorwaar uitstekend gevaar met ‘n gemiddelde punt van 77%!

Saterdagmiddag en -aand het ons heerlik aan die oewer van die Vaalrivier feesgevier. Daar is saam gelag, gesels en vrolik gekuier, met harte vol dankbaarheid oor die besondere prestasie en die wonderlike naweek saam.

Dit was werklik ‘n groot voorreg om hierdie naweek saam met ons leerders te kon beleef. Ons is dankbaar vir die harde werk en toewyding waarmee hulle voorberei het, maar bowenal vir die Here se seën oor elkeen van hulle. Hy het ons kinders geseën met Bybelkennis en insig – ‘n kosbare skat wat niemand ooit van hulle kan wegneem nie.

Nog nuus

Leiers wat dien

Leierskamp by Adventure Peaks, 13–14 Augustus 2026 Deur Mariska vd Wetering Op 13 en 14 Augustus het ons 34 nuwe diensraadlede twee dae by Adventure

Lees meer »

Ons dien: Vlamvang

Die Ratels vang die vlam! In 2026 het ons skoolimpieks kompetisie vir die eerste keer behoorlik vlamgevat. Die idee is deur die Dagbestuur van 2025

Lees meer »

+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa