Die Graad 7-leerders het op Vrydag, 7 Augustus ’n leersame uitstappie na Dinokeng, Kwalata, onderneem. Die doel van die uitstappie was om die leerders meer oor renosterbewaring te leer en hulle bewus te maak van die belangrike rol wat renosters in ons ekosisteem speel.
Die dag het afgeskop met ’n kort opvoedkundige staproete deur die bos. Die leerders het meer geleer oor hoe verskillende strikke werk, die besondere eienskappe van Tambotiebome en hoe om diere aan die hand van hulle spore en mis te identifiseer. Gion was sommer ons eie proefkonyn toe die wildbewaarder een van die strikke op hom demonstreer!
Daarna het die leerders op ’n opwindende wildrit vertrek. Tydens die rit het hulle baie interessante feite oor renosters ontdek, onder meer waarom hierdie indrukwekkende diere so belangrik vir die ekosisteem is. Hulle het ook geleer hoe om tussen swart- en witrenosters te onderskei. Een van die interessantste feite was dat ’n renosterkoei sowat 18 maande dragtig is voordat haar kalf gebore word!
Die leerders het ook ontdek hoe moderne tegnologie gebruik word om renosters te monitor, te beskerm en stropery te bekamp. Arlo het selfs die geleentheid aangegryp om ’n happie van renostermis te proe! Tot almal se verbasing het dit glo net soos gras geproe.
Die dag is afgesluit met ’n heerlike middagete en yskoue vrugtesap. Dit was ’n uitstappie vol nuwe kennis, interessante ontdekkings en hope pret. Ons Graad 7’s het nie net met nuwe feite huis toe gegaan nie, maar ook met ’n groter waardering vir die bewaring van ons kosbare natuurlewe.
