+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Klein handjies, groot skeppings!

Wie sou kon dink dat ‘n bietjie verf, ‘n stuk klei, ‘n skêr en ‘n paar stukkies papier soveel kan beteken vir ‘n kind se ontwikkeling?

In ons kleuterskool is skeppende kuns baie meer as net ‘n lekker aktiwiteit of ‘n mooi prentjie wat huis toe gestuur word. Dit is ‘n wonderlike geleentheid vir klein handjies om te ontdek, te eksperimenteer, te skep en sommer baie belangrike vaardighede aan te leer – dikwels sonder dat die kleuters eens besef hoeveel hulle leer!

Wanneer ‘n kleuter met ‘n verfkwas eksperimenteer, met klei speel, papier knip of met kryte teken, word die klein spiertjies in die hande en vingers versterk. Hand-oog-koördinasie, konsentrasie en fyn motoriese vaardighede ontwikkel op ‘n natuurlike en speelse manier. Dit is juis hierdie vaardighede wat later so belangrik is wanneer hulle leer om netjies te skryf, syfers te vorm en ander skooltake aan te pak.

Maar skeppende kuns ontwikkel soveel meer as net vaardige handjies. Dit prikkel die verbeelding, moedig probleemoplossing aan en gee kleuters die geleentheid om kleure, vorms en teksture met al hul sintuie te ontdek. Hulle leer om planne te maak, self besluite te neem en nuwe moontlikhede raak te sien.

Dalk is een van die mooiste aspekte van skeppende kuns juis die vryheid wat dit aan ‘n kind bied. Daar is nie altyd ‘n regte of verkeerde antwoord nie. ‘n Boom hoef nie noodwendig groen te wees nie en ‘n son kan gerus pers wees! Elke kind kry die geleentheid om sy eie idees uit te beeld en iets van sy unieke persoonlikheid te wys.

En watter onderwyser of ouer ken nie daardie trotse gesiggie wanneer ‘n kleuter sy kunswerk omhoog hou en uitroep: “Kyk wat het ek gemaak!” nie? In daardie oomblik groei selfvertroue, word kreatiwiteit aangemoedig en beleef ‘n kind die vreugde van sy eie prestasie.

Daarom gaan dit in ons kleuterskool nie in die eerste plek oor die mooiste of netjiesste eindproduk nie, maar oor die proses van ontdekking, die vreugde van skepping en die ontwikkeling wat langs die pad plaasvind.

Elke verfkol, kleivinger en skewe knipsel vertel immers ‘n storie van ‘n klein mensie wat besig is om te groei en te leer.

En hoe wonderlik is dit nie om te sien hoe elke kleuter, met sy eie unieke gawes en vermoëns, die geleentheid kry om kreatief te wees en die mooi in God se skepping te ontdek nie!

Michelle Harenberg

Nog nuus

Kaskar en Feesweek

Die kaskar en Feesweek sorg gewoonlik vir baie pret en plesier. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Die Graad 11 diensraad het hulle puik van

Lees meer »

+27 12 332 3222 | gsdp@gsdp.co.za | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa