Ons het by Heinrich Goodey gaan inloer om te hoor wat sy herinnerige van Gereformeerde Skool Dirk Postma is. Heinrich was ‘n toppresteerder en het onder andere tweede plek in die distrik tydens die matriekeindeksamen in 2025 behaal.

Vertel ons ‘n bietjie van jouself: wie is jy, waar kom jy vandaan, en watter jare was jy by Dirk Postma?
Ek is Heinrich Goodey, die middelkind van Jean en Lientjie Goodey en het twee broers. Ek het grootgeword in Pretoria en was in die Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn. Ek het 2021 by Dirk Postma aangemeld en het my skoolloopbaan in 2025 voltooi.
Wat is jou mooiste herinnering van jou tyd by die skool?
My matriekjaar en tye saam my vriende bied vir my baie mooi herinneringe.
Watter onderwyser het die grootste indruk op jou gemaak, en hoekom?
Dit is moeilik om slegs een onderwyser uit te sonder, maar as ek ’n onderwyser sou moes kies wat die grootste indruk op my gemaak het, sou dit meneer Wiku van Rooyen wees. Die weeklikse Kerkgeskiedenis- en Lewensoriënteringlesse was altyd insiggewend en verykkend. In hierdie klasse, sou ek sê, is die Gereformeerde wêreldbeskouing en die beginsels waarvoor Dirk Postma staan die helderste in ons geplant en geanker. By meneer Wiku het my kennis en insig baie verbreed en sy lesse was nie net teoreties nie, maar ook baie prakties – dit het my lewenstyl en gesindheid gevorm.
Was jy betrokke by enige buitemuurse aktiwiteite, sport of kultuur? Wat het dit vir jou beteken?
Ek het deelgeneem aan en was betrokke by verskeie aktiwteite soos onder andere die skool se tafeltennis, sosiale hokkie, dagbestuur en revue. Dit was altyd vir my lekker om betrokke te wees by die skool se aktiwiteite. Dit was aangename aktiwiteite wat vriendskappe gevorm het terwyl mens saamwerk tot ’n gemeenskaplike doel.
Hoe het die Christelike waardes en gereformeerde grondslag van die skool jou gevorm: as mens, as werker, as gesinsmens?
By die Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn is daar alreeds ’n goeie Bybelse fondasie vasgelê. Dirk Postma het verder gebou op hierdie fondasie terwyl mens opgroei en meer volwasse word. By Dirk Postma is elke terrein van mens se lewe in perspektief gebring tot wat die Bybel daaroor sê – elke faset van ons lewe staan onder die koningskap van Christus en alles dien tot sy eer.

Was daar ‘n spesifieke oomblik of les wat jou geloofslewe of lewensuitkyk verander het?
Soos vroeër ook vermeld, was meneer Wiku van Rooyen se lesse altyd insiggewend. ’n Spesifieke les (of eerder onderwerp), wat ’n groot uitwerking op my gehad het, het ons in graad 9 al gedek toe ons die geskiedenis van die Reformasie behandel het. Die wonderlike leer van die regverdigmaking deur die geloof wat ons behandel het, was soos sement wat die verskeie boublokke op die Christilike fondasie stywer saamgebind het.
Hoe verskil jou ervaring by Dirk Postma van wat jy sien by mense wat elders skoolgegaan het?
By Dirk Postma is ons daagliks omring deur mede-gelowiges wat dieselfde as mens dink en glo. Daarmee saam is Dirk Postma ook ’n onafhanklike skool, wat gelei het dat mens mekaar en die onderwysers beter ken en waardeer. By baie mense wat elders skoolgegaan het, is hierdie waardering en ken van mede-skoliere en onderwysers nie so opvallend nie.
Wat doen jy tans: beroep, studies, gesin?
Ek is tans ’n eerstejaar aan die Universiteit van Pretoria waar ek BCom Statistiek en Data Wetenskappe studeer.
Watter vaardighede of karaktereienskappe uit jou skooljare gebruik jy vandag nog elke dag?
Eintlik gebruik ek nog redelik al die vaardighede en karaktereienskappe van my skooljare. Dit strek van akademiese vaardighede soos om kennis toe te pas en om krities te dink tot by interpersoonlike vaardighede soos kommunikasievaardighede sowel as karaktereienskappe en waardes.
Waarop is jy die trotste sedert jou skoolloopbaan?
Ek is dankbaar vir die vreedsame oorgang van skolier tot student.
Wat sou jy vir ouers sê wat oorweeg om hul kinders by Dirk Postma in te skryf?
Die vrugte wat Gereformeerde onderrig al gelewer het, kan nie misgekyk word nie. Dirk Postma skep ’n veilige omgewing waar kinders kan opgroei – nie net akademies en liggaamlik nie – maar veral ook geestelik. Die klein klasse en persoonlike verhoudinge met beide mede-leerders en onderwysers lei ook verder tot karakterontwikkling.
Wat sou jy vir huidige leerders wil sê wat nog in die skool is?
Koop die tyd uit, maak die beste gebruik van elke geleentheid: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag.” (Prediker 9:10a)
As jy die skool in een sin moes opsom, wat sou jy sê?
Die skool is ’n teelaarde waar kinders van kleins af opgevoed word in die gesonde Leer, ’n plek “sodat ons seuns soos plante mag wees wat opgekweek is in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare wat uitgebeitel is na die boustyl van ’n paleis.” (Psalm 144:12)