+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Alumnis van die maand: Mariëtte de Bruyn

Mariëtte de Bruyn het in 2015 aan die Gereformeerde Skool Dirk Postma gematrikuleer. Sy het in Pretoria grootgeword en kom uit ’n gesin waar die geloof van jongs af sentraal gestaan het. Vandag bly sy saam met haar man en dogtertjie in Hendrina, waar haar man as predikant van GK Hendrina/Carolina dien. Na haar studies het sy ook van 2020 tot 2024 as onderwyseres by Gereformeerde Laerskool Dirk Postma gewerk, eers vir Graad R en later vir Graad 2.

As sy terugdink aan haar skooljare, is dit die band tussen klasmaats en onderwysers wat haar die meeste bybly. Een onderwyser wat ’n besondere indruk op haar gemaak het, is Juffrou Carli Buys, wat haar voogjuffrou van Graad 8 tot Graad 12 was. “Ek het baie by haar geleer en kon enige tyd met haar oor enige ding gaan praat,” sê Mariëtte. Buiten haar klaskamerlewe het sy ook netbal en sagtebal gespeel. Dit was ’n welkome ontlading van die eise van skoollewe en ’n geleentheid om saam vriendinne tyd deur te bring.

Vir Mariëtte is die grootste skat van haar jare by Dirk Postma die geloofsgrondslag wat die skool bied. “Die grondslag van alle onderrig by Dirk Postma kom vanuit die Bybel. Die feit dat ek op skool al geleer het hoe om deur ’n gereformeerde bril na die wêreld te kyk, het baie gehelp in die jare ná skool.” Sy erken dat ‘n mens nie altyd op skool besef hoe kosbaar hierdie onderrig is nie, maar dat jy die waarde daarvan later ten volle raaksien, veral as jy sien wat deesdae in baie ander skole geleer word.

Die leuse van die skool, Wees sterk en vol moed, is een wat sy steeds elke dag saamdra. “Die lewe is vol uitdagings en onsekerhede, maar die belofte wat in daardie woorde versteek is, bly my altyd by.”

Aan ouers wat oorweeg om hul kinders by Dirk Postma in te skryf, het Mariëtte ’n duidelike boodskap: “Moet nie huiwer nie, doen dit. As ouers het ons by ons kinders se doop belowe om hulle in die geloof groot te maak. Hoe wonderlik is dit nie dat daar ’n skool is wat jou daarin bystaan. Jy kan die gemoedsrus hê dat jou kind niks sal leer wat in stryd is met die Bybel nie.”

En aan die leerders wat nog in die skool is, sê sy: “Koester elke oomblik. Jou skooljare is so vinnig verby.”
Vir Mariëtte is Dirk Postma net dit: ’n baken op ‘n berg, ’n plek wat lig bring en rigting gee, lank nadat jy die skoolhek agter jou toegemaak het. (Matt. 5:14–16)

Nog nuus

+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa