“Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!” – Psalms 90:12
Jy ken die gevoel: dis Sondagaand, jou twee opstelle is nie klaar nie, jy het nog nie vir die toets van Maandag geleer nie, en jou kamer lyk asof ’n tornado daar deurgewaai het. Waarheen het die naweek gegaan?
Die waarheid is, ons kry almal dieselfde 24 uur elke dag. Niemand kry meer of minder nie. Maar party mense lyk asof hulle alles reggekry – hulle doen sport, behaal goeie punte, het nog tyd vir vriende, en slaap selfs genoeg. Wat is hulle geheim?
Tyd is ’n gawe
Die Bybel praat baie oor tyd. In Prediker 3 lees ons dat daar ’n tyd is vir alles onder die son. Efésiërs 5:15-16 sê ons moet versigtig leef, nie as onwyse mense nie, maar as wyse, en die tyd uitkoop omdat die dae boos is. Dit beteken God het tyd aan ons as ’n gawe gegee, en Hy verwag van ons om dit met wysheid te gebruik.
Dink so daaraan: as iemand jou R1 000 gee en sê jy moet dit spandeer, sal jy versigtig kies waarop jy dit uitgee. Jy gaan nie net lukraak geld rondgooi nie. Dit werk net so met tyd. Elke dag kry jy ’n nuwe “bedrag” van 24 uur, en jy moet besluit hoe jy dit gaan gebruik.
Hoekom sukkel ons so?
Voordat ons praat oor hoe om tyd beter te bestuur, kom ons kyk na hoekom ons dit verkeerd doen:
Ons stel uit. Dis makliker om nou Netflix te kyk en later te leer. Die probleem is “later” word gou “te laat”.
Ons sê ja vir alles. Jy wil nie mense teleurstel nie, so jy sê ja vir elke projek, elke uitnodiging, elke guns. Voor jy weet, is jy so besig dat jy niks goed doen nie.
Ons het geen plan nie. Sonder ’n plan waai jy soos ’n blaar in die wind. Jy doen net wat op daardie oomblik lekker voel.
Ons onderskat hoe lank goed vat. Jy dink jy kan daai opstel in ’n uur klaarmaak, maar vier ure later sit jy nog.
Praktiese stappe
1. Begin met prioriteite
Wat is regtig belangrik in jou lewe? Maak ’n lys van wat vir jou saak maak: jou verhouding met God, jou gesin, jou studies, jou gesondheid, jou vriende. Wanneer jy moet besluit hoe om jou tyd te gebruik, kyk na hierdie lys. Doen die goed wat bo-aan is, eerste.
2. Gebruik ’n dagboek of beplanner
Skryf jou take neer. Alles. Toetse, opdragte, oefeninge, gesellighede. As dit in jou kop is, vergeet jy dit. As dit op papier is (of op jou foon), is dit daar.
Kyk elke Sondagaand vooruit na die week. Watter groot opdragte of sperdatums lê voor? Wanneer gaan jy die werk daarvoor insit? Kyk dan elke aand voor jy gaan slaap na more se beplanning. Skryf neer wat jy moet doen, lysies werk goed.
3. Die groot goed eerste
Mark Twain het gesê as jy ’n padda moet eet, doen dit eerste ding in die oggend, dan is die ergste verby. Dieselfde geld vir jou take. Die goed wat jy die minste wil doen, is gewoonlik die belangrikste goed. Doen dit eerste wanneer jy nog vars is.
Moenie die maklike goedjies eerste doen om jouself goed te laat voel nie. Pak die moeilike wiskunde aan, skryf die inleiding van jou opstel, leer die langvrae. Sodra dit klaar is, is die res maklik.
4. Tyd vir alles
Prediker 3 leer ons daar’s ’n tyd vir werk en ’n tyd vir rus. Jy kan nie die hele dag leer nie, maar jy kan ook nie die hele dag ontspan nie. Daar moet balans wees.
Maak ’n skedule. Dalk van 15:00 tot 17:00 is studietyd. Van 17:00 tot 18:00 is rus. Van 19:00 tot 20:00 weer studie. Wanneer jy werk, werk hard. Wanneer jy rus, rus regtig. Moenie halfpad tussen die twee wees nie – dit werk nie.
5. Leer om nee te sê
Jy kan nie alles doen nie. As jy ja sê vir iets nuuts, sê jy nee vir iets anders. Kies wys. Dis oukei om te sê: “Ek kan nie, ek het te veel op my bord.” Jou ware vriende sal verstaan.
6. Breek groot goed in klein stukkies op
Daardie groot Geskiedenis-projek lyk onmoontlik. Maar as jy dit opbreek in kleiner stukkies, is dit hanteerbaar. Vandag doen jy die navorsing. Môre skryf jy die inleiding. Oormôre doen jy die eerste paragraaf. Voordat jy weet, is dit klaar.
Die Bybel praat van dissipline en volharding. Romeine 5 sê verdrukking werk lydsaamheid, lydsaamheid werk beproefdheid, en beproefdheid werk hoop. Klein stappe elke dag lei tot groot resultate.
7. Skakel afleidings af
Jou foon is jou grootste tydrower. Studies wys mense loer gemiddeld elke paar minute na hulle fone. Elke keer as jy na ’n kennisgewing kyk, verloor jy fokus. Dit neem tyd om weer op die taak voor jou te kan konsentreer.
Wanneer jy moet leer, sit jou foon in ’n ander kamer. Sluit WhatsApp. Sluit YouTube. Net jy en jou werk. Jy sal verbaas wees hoeveel meer jy regkry.
8. Kry genoeg slaap
Dis nie cool om te spog dat jy het net vier uur geslaap nie. God het ons liggame gemaak om ook te kan rus . Wanneer jy moeg is, dink jy stadiger, onthou jy minder, en maak jy meer foute.
Tieners het tussen agt en tien uur slaap nodig. Ja, regtig. As jy nie genoeg slaap kry nie, mors jy eintlik tyd, want jy moet twee keer so lank werk om dieselfde ding te verstaan.
Wanneer dit skeefloop
Partykeer gaan dinge skeef. Jy het ’n slegte week gehad, jy het uitgestel, of iets onverwags het gebeur. Dis oukei. God se goedertierenhede is elke môre nuut.
Die belangrikste ding is om uit jou foute te leer. Hoekom het dit skeefgeloop? Wat kan jy volgende keer anders doen? Begin weer van voor af, en probeer weer.
Onthou, die doel is nie om perfek te wees nie. Die doel is om getrou te wees met wat God jou gegee het. In die gelykenis van die talente (Mattéϋs 25) het die Here die dienaars geprys wat gebruik gemaak het van wat hulle gekry het, nie net die een wat die meeste gehad het nie.
Tydsbestuur is nie ’n talent waarmee jy gebore word nie. Dit is ’n vaardigheid wat jy leer. En soos enige vaardigheid, verbeter jy met oefening.
Gebruik die tyd wat jy ontvang, wys. Elke dag is ’n geleentheid om iets goeds te doen, om te groei, om te leer.
Moenie die dag mors nie. Maak die beste daarvan.
Volg Gereformeerde Skool Dirk Postma op Facebook om meer van ons nuus te sien.