Kleuters is nuuskierig en leergierig. Net soos hulle buite in die sand en water speel en ontdek, eksperimenteer hulle ook met kryte wanneer hulle teken. Terwyl hulle ontdek wat daar gebeur wanneer ’n kryt in alle rigtings op papier beweeg, vind daar ontwikkeling plaas tussen die hand en die brein. Dus ontwikkel daar noodsaaklike vaardighede wat bemeester moet word voordat formele onderrig kan begin.
Teken bevorder kognitiewe ontwikkeling
Teken is ’n natuurlike manier waarop kleuters begin om hul wêreld te verstaan en te struktureer. Dit help kinders om idees en stories visueel voor te stel. Hierdie simboliese spel stimuleer breinontwikkeling en berei kleuters voor vir latere vaardighede soos lees en skryf. Dus is teken nie net ’n kunsaktiwiteit nie, maar ’n prettige manier om denke te orden en nuwe kennis te verstaan.
Teken bevorder geletterdheid
Teken vorm ’n belangrike brug tussen praat en skryf wanneer hulle verduidelik wat hulle geteken het. Wanneer kleuters hul tekeninge verbaliseer, oefen hulle woordeskat en sinsbou. Vroeë geletterdheid ontwikkel op ’n natuurlike wyse.
Ruimtelike vaardighede word versterk
Wanneer kleuters genoeg blootstelling kry om met kryte te eksperimenteer, help dit hulle om vorms, patrone en ruimtelike verhoudings te verstaan. Kleuters leer om te beplan, te kies, te organiseer en te dink oor wat hulle wil uitbeeld. Hierdie tipe denke is baie belangrik vir wiskundige begrippe asook probleemoplossing wat noodsaaklik is vir skoolgereedheid.
Teken bevorder emosionele ontwikkeling
Navorsing toon dat teken ’n veilige manier is om gevoelens, ervarings en selfs angste uit te druk wanneer woorde nog ontbreek. Dit gee die volwassene ’n unieke venster in die kind se emosionele wêreld. Deur te teken kan ’n kleuter wys wat vir hom belangrik, vreugdevol, maar ook onseker is.
Teken ontwikkel ’n stewige grondslag vir skryf
Deur te krap, te krabbel en lyne te trek, ontwikkel oog-handkoördinasie, die korrekte potloodgreep en fynmotoriese beheer verbeter. Hierdie vaardighede is noodsaaklik om goed ontwikkel te wees, aangesien dit die basis vorm waarop skryf plaasvind.
Probleemoplossing vind plaas tydens teken
Vryteken ontsluit ’n kind se verbeelding. Hulle leer om besluite te neem (“Wat gaan ek teken?”), probleme op te los (“Ek moet beplan sodat alles op my bladsy pas”). Dit ontwikkel ook kreatiwiteit. Teken laat kinders toe om onafhanklik te dink, te eksperimenteer en hul eie stem te vind.
Soos ’n baba deur verskillende ontwikkelingsfases gaan wanneer hy leer sit en loop, beweeg kleuters ook deur natuurlike fases wanneer hulle leer teken.
Krabbelfase (1-3 jaar)
In hierdie fase geniet peuters dit om hul hande vrylik te beweeg. Hulle maak onbeheerde lyne op papier. Hierdie “krabbels” is belangrike oefening vir oog- en handkoördinasie en help peuters om te ontdek dat hulle bewegings merke kan maak.
Herkenbare-fase (3-4 jaar)
In hierdie fase begin kleuters herkenbare vorms teken, soos kringe, vierkante en strepies. Hulle begin hul tekeninge benoem en kan verduidelik wat hulle probeer uitbeeld.
Skematiese-fase (4-5 jaar)
Kleuters teken nou mense met ’n groot kop en arms of bene wat direk uit die kop groei. Dit is ’n normale en waardevolle fase van selfbeeld en begrip van die menslike liggaam. Hul prente word ook ryker aan betekenis en storie.
Realistiese-fase (5-6 jaar)
Tekenwerk word nou fyner en meer realisties. Meer besonderhede word in die menstekening bygevoeg en omgewingsdetail begin verskyn. Kinders probeer om hul tekeninge so akkuraat as moontlik te maak, wat wys dat hul waarneming en fynspierbeheer ontwikkel het.
Tekenvaardighede ontwikkel oor tyd en strek oor jare, afhangende van ’n kind se fynspierbeheer en kognitiewe ontwikkeling. Wanneer kinders ’n veilige ruimte en genoeg blootstelling tot die tekenkuns kry, kan hul natuurlike kreatiwiteit op sy eie manier ontluik. Soos met alle ander ontwikkelingsmylpale, verskil die tempo waarteen kinders se tekenvaardighede ontwikkel ook van kind tot kind.