God het die mens na sy beeld geskep met ‘n aanvoeling vir die estetiese en die vermoë om kunswerke te kan waardeer en kuns te kan beoefen. Kuns is ‘n kultuuruiting en in kuns is daar noodwendig altyd die estetiese teenwoordig. Fil 4:8 is duidelik oor hoe om met die estetiese om te gaan. “Verder broeders alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit”. Kuns as kultuurskepping moet dus aan die norme van die Skrif voldoen. In uitvoering van sy kultuuropdrag het die mens ‘n verantwoordelikheid teenoor God, al het die mens redelike vryheid van uitdrukking ontvang. God het ‘n welbehae in ‘n kunstenaar wat hom hou by Bybelse norme.
In Kuns by GSDP leer die leerlinge ook wat is algemene onaanvaarbare beskouings van kuns en word hul ook geleer hoe om dit te beoordeel.
Visuele Kunste is ‘n opwindende en dinamiese vak wat leerlinge in staat stel om verskillende kunsvorme te verken, te skep en krities te ondersoek. Die doel van die Visuele Kunste-kurrikulum vir graad 10 tot 12 is om leerlinge se artistieke vaardighede te ontwikkel, hul begrip van kunsgeskiedenis en -teorie te verdiep en hul vermoë om idees visueel oor te dra, te bevorder.