Graad 8 – 12
Die Here gee die opdrag gee om van Sy groot dade aan die volgende geslag te getuig. Daardie opdrag vind ons in Deut. 6:7 en Psalm 78:1 – 7. Ons moet d.m.v. die Bybel die groot dade van die Here aan verbondskinders te ontsluit. Sodoende leer die kinders die Here ken en dit leer hulle om op hom te vertrou.
Die vier belangrike lyne wat dieper betekenis gee en wat leerders in die vak Bybel moet kan raaksien is:
Teosentries: God regeer. God die Vader is die Skepper, God die Seun is die Verlosser en God die Heilige Gees skenk aan ons die geloof.
Antiteties: Vanaf die sondeval is daar ʼn oorlog aan die gang. Satan wil die kinders van die Here afvallig en ongehoorsaam aan Hom maak. Gen. 3:15 is die moederbelofte waarin ons oorlog, vyandskap en belofte sien.
Heilshistories: God kondig in die moederbelofte die Verlosser, Jesus Christus aan. In die Ou Testament werk die Here na die koms van die Messias. Ons sien dit in die beloftes, seëninge, persone, voorwerpe, feeste, offerdiens, geskiedenis en die Psalms
Verbondsmatig: God gee ʼn belofte met die verbond wat hy met die mens sluit, die belofte van ʼn land, nageslag, dat die Here sal sorg, beskerm, seën en die groot belofte van die Verlosser. God stel ook sekere eise in die verbond naamlik geloof, bekering en gehoorsaamheid.
Dit is ʼn belangrike taak van die Gereformeerde Skool om ʼn Bybel as ‘n vak aan te bied. Die Heilige Gees werk die geloof in ons deur die Woord, deur die prediking, deur Bybellees, Bybelstudie en ook Bybelvertelling en Bybelkennis. Ons werk nie in eie krag en eie wysheid nie, maar altyd biddend tot God, dat Hy ons sal lei deur die Heilige Gees en aan ons insig, wysheid en krag sal gee om hierdie taak te verrig