Geagte Gemeente
As opvolg tot ons vorige nuusbrief, deel ons graag verdere gedagtes rondom gereformeerde onderwys.
In ’n tyd waar die wêreld se stem al hoe harder word, staan Gereformeerde Skool Dirk Postma vas op een fondament: die Woord van God is die hoogste gesag en die ware bron van alle waarheid.
Dit is nie net ’n beginsel op papier nie. Dit is die werklikheid wat elke dag in ons klaskamers gestalte kry.
Skrifgesag beteken dat die Bybel nie net ’n vak is wat ’n paar keer per week onderrig word nie. Dit beteken dat alle vakke soos wiskunde, wetenskap, geskiedenis en taal, getoets en verstaan word aan die hand van wat God in sy Woord leer.
Wanneer ons kinders leer oor die skepping, doen ons dit in die lig van Genesis. Wanneer ons geskiedenis bestudeer, erken ons God se hand daarin. Wanneer ons wetenskap ondersoek, sien ons die werk van ’n wyse Skepper.
Die Skrif leer ons: “… in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.” (Kolossense 2:3)
Geen vak word van hierdie waarheid losgemaak nie.
Die Gereformeerde belydenis leer dat ons kinders verbondskinders is. By die doopvont beloof ouers om hulle kinders groot te maak in die kennis van die Here. Die kerk staan ouers daarin by.
Die skool staan naas die ouerhuis en die kerk. Saam werk ons om kinders te vorm wat God ken, sy Woord liefhet en sy wil in die wêreld uitleef.
Elke onderwyser by GSDP word geroep om nie net ’n vakkundige te wees nie, maar ook ’n geloofsgetuie. Die vraag wat deurlopend gevra word is: Hoe help hierdie les ’n kind om God beter te ken en die wêreld deur sy oë te sien?
Dit is ’n groot verantwoordelikheid. Maar ons dra dit met vreugde, want ons weet: “… julle arbeid is nie tevergeefs in die Here nie.” (1 Korinthiërs 15:58)
Ons vra die kerke om saam te dink oor die noodsaak van Gereformeerde onderwys. Die stryd om die harte van ons kinders is werklik. Die wêreld bied voortdurend sy eie antwoorde aan. Ons antwoord bly die Woord van God, wat elke gedagte gevange neem onder die gehoorsaamheid aan Christus. (2 Korinthiërs 10:5)
GSDP bestaan omdat ouers en kerke glo dat die Woord van God genoeg is. Genoeg vir die lewe. Genoeg vir die onderwys. Genoeg vir die toekoms van ons kinders.
Wil u meer weet?
Besoek ons by www.gsdp.co.za of skakel ons vir ’n informele gesprek oor hoe ons saam met u u kind kan toerus vir ‘n lewe tot eer van God.
Seëngroete
Gereformeerde Skool Dirk Postma