By Gereformeerde Skool Dirk Postma is onderwys nie bloot die oordrag van kennis nie. Dit is ’n daad van gehoorsaamheid aan God. Een van die grondpilare waarop ons skool rus, is die Bybelse verhaal van skepping, sondeval en verlossing, ’n verhaal wat nie net vir Sondae bedoel is nie, maar wat elke vak, elke les en elke dag op skool deurdring.
Die Skrif is duidelik: God het die hemel en die aarde geskep, en dit was goed. Die mens is na sy beeld geskep, nie as toevallige produk van willekeurige kragte nie, maar as kroonwerk van ‘n doelbewuste Skepper. Elke kind wat by ons deure instap, is ’n beelddraer van God. Dit bepaal hoe ons na kinders kyk, hoe ons hulle behandel en hoe ons hulle onderrig. God het die mens ook opdrag gegee om die skepping te bewerk, en by GSDP word leerders juis daarvoor toegerus om met hart en verstand die skepping te ontplooi.
Die sondeval het egter alles geraak. Die mens se verstand, wil en hart is deur die sonde aangetas. Gereformeerde onderwys neem dit ernstig op: sonder die lig van die Skrif kan die mens homself nie reg verstaan nie en kan hy sy roeping nie getrou nakom nie. Maar die verhaal eindig nie daar nie. In Jesus Christus is daar verlossing en herstel, vir die mens én vir sy roeping in die wêreld. Die gelowige leerder word opnuut toegerus om God in die wêreld te dien en dit tot sy eer te bewerk.
Daarom is die kurrikulum by Dirk Postma Bybels geïntegreerd. Die Woord van God is nie ’n ekstra vak aan die kant nie, dit is die lens waardeur alle vakke gesien en verstaan word. Sedert die eerste 42 leerders in 1987 is dit die droom waarmee hierdie skool gebou is, en dit bly die droom waarmee ons voortgaan.
Wil u meer weet?
Besoek ons by www.gsdp.co.za of skakel ons vir ’n informele gesprek oor hoe ons saam met u u kind kan toerus vir ‘n lewe tot eer van God.
Seëngroete
Gereformeerde Skool Dirk Postma