Bybelse waardes vorm die grondslag van Verbruikerstudies, wat nie net fokus op praktiese en teoretiese vaardighede nie, maar ook op die geestelike beginsels wat die besluitneming van leerders rig om regverdig en met integriteit op te tree in ‘n komplekse wêreld. Die Bybel leer ons om met wysheid, deernis en verantwoordelikheid op te tree, wat essensieël is in die ontwikkeling van verantwoordelike verbruikers. Die kurrikulum moedig leerders aan om nie net etiese besluite te neem nie, maar ook volhoubare praktyke in hul lewens toe te pas. Leerders word aangemoedig om verantwoordelik om te gaan met hulpbronnne, mense en die omgewing, en sodoende goeie keuses te maak in hul roeping om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.
“Deur wysheid word ‘n huis gebou, en deur verstand word dit bevestig; en deur kennis word die mers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed.” SPREUKE 24:3-4
Die hoofdoel van Verbruikerstudies is om leerders te inspireer om met integriteit op te tree in hul verbruikersgedrag en daaglikse besluite. Verbruikerstudies lê die fondasie om verantwoordelike en ingeligte verbruikers te kweek. In die Verbruikerstudie-klas word kreatiewe en kritiese denke gestimuleer, finansiële bestuur aangeleer en selfvertroue ontwikkel.