+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Inligtingstegnologie

Inligtingstegnologie (IT) is ‘n vak wat binne die raamwerk van die kultuurmandaat van Gen 1:28 val, naamlik die beheersing, bewerking en bewaring van die skepping. Die ontginning van die moontlikhede van die skepping is dus nie ‘n willekeurige menslike aktiwiteit nie, maar ‘n plig asook ‘n mandaat wat aan die mens gegee is.

Net soos alle menslike aktiwiteite, het die ontginning en benutting van tegnologie besliste gevolge, goed en sleg. Hulpbronne en tegnologiese moontlikhede van die skepping moet vanuit ‘n christelike lewens- en wêreldbeskouing verstaan en toegepas word. God moet deur die gebruik van tegnologie geëer word, die naaste daarmee gedien word en die skepping daarmee opgepas word.

Hierdie vak vereis...

  • Analitiese vermoë (onderskei die kleinste onderdele of komponente waaruit ’n proses bestaan)
  • Sintetiese vermoë (om uit kleiner onderdele en komponente ’n groter stelsel te beplan en saam te stel as een geïntegreerde geheel)
  • Syfervaardigheid (want jy moet die rekenaar kan programmeer om berekenings te doen)
  • Akkuraatheid (want die rekenaar gaan jou baie klein foutjie vreeslik g r o o t o p b l a a s)
  • Deursettingsvermoë (want sommige dinge sal jy net verstaan as jy bereid is om ’n bietjie tyd te vat om ’n saak “uit te puzzle”)
  • Eerlikheid (want van jou gaan verwag word om rekenaars só te programmeer dat jy jou medemens dien en nie jouself op ’n oneerlike wyse verryk nie…)
maar met dit alles gesê ☺ Jy hoef darem nie volmaak te wees om IT te vat nie ☺

Die vak Inligtingstegnologie by GHS Dirk Postma

  • Het ’n groot praktiese komponent wat bestaan uit objek-georiënteerde programmering, tekslêerhantering en databasishantering met SQL (die skool is tans (2024) besig om van die Delphi-programmeertaal oor te skakel na JAVA). Vir die PAT (Practical Application Task) moet jy ’n bietjie woordverwerkingsvaardighede aanleer.
  • Sal jou lekkerste skoolvak wees mits : jy goed oplet in die klas, elke dag ’n bietjie prakties by die huis oefen en die meeste van jou teorie by die huis leer.
  • Gaan, saam met wiskunde, jou analitiese- en denkvaardighede baie bevorder.
  • Gaan jou leer om sake vooraf goed deur te kyk en dan selfstandig probleme op te los.
  • Is multidissiplinêr, dit wil sê rekenaars kan aangewend word om probleme in baie vakrigtings op te los.

Wat kan jy eendag met IT doen?

  • Wat kan ’n mens nie daarmee doen nie!?
  • Geen enkele beroep of werksplek kan deesdae sonder rekenaarkundiges klaarkom nie.
  • Gespesialiseerde IT-rigtings is programmeerder, stelselprogrammeerder en stelselontleder.
  • Daar is ’n verskeidenheid rigtings in ingenieurswese waarvoor kennis van inligtingstegnologie en programmering noodsaaklik is.
  • In handelsomgewings is databasis-spesialiste en data-analiste onontbeerlik.
  • Daar is baie rekenaarberoepe wat nie noodwendig programmeringsvaardighede vereis nie, maar waar programmeerkundigheid jou baie goed te pas kan kom, veral netwerkingenieurs en -tegnici.
  • Geen navorser kan deesdae sonder die hulp van rekenaarspesialiste sy navorsingstaak verrig nie. Dink jy genetici het die menslike genoom ontrafel (en dit slegs gedeeltelik?) sonder die hulp van gespesialiseerde rekenaarprogramme?
  • As jy regtig nie weet wat om met jou IT-vaardighede te doen nie, kies die beste beroep – IT Onderwyser!

Hulpbronne

Videos

+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa