Vanjaar het Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma drie spanne onder leiding van mev Lientjie Drijfhout vir die Rapportryers se Bybelvasvra ingeskryf — ’n nasionale projek wat reeds vir 46 jaar aangebied word.


Die doel van hierdie kompetisie is om leerders aan te moedig om gedeeltes van die Bybel te bestudeer en te memoriseer. Só word Bybelkennis bevorder – ’n opdrag wat in Psalm 78 beklemtoon word: om God se dade aan die volgende geslag bekend te maak. Uit hierdie kennis groei daar ’n dieper Godsvertroue – iets sonder waarvan geen gelowige sy roeping op aarde kan uitleef nie.
Die Bybelvasvra moedig ook samewerking, selfdissipline en uithouvermoë aan. Enige Afrikaanssprekende laer- en hoërskoolleerder kan deelneem, en kerke word jaarliks genooi om ook spanne in te skryf. Die voorgeskrewe hoofstukke uit die Ou- en Nuwe Testament word vooraf bekend gemaak sodat deelnemers genoeg tyd het om deeglik voor te berei.
Sodra die leerstof bekend is, begin die voorbereiding wat oor maande strek. Toegewyde afrigters lei die proses, wat lei tot uitdunrondtes en uiteindelik ’n landwye finaal. Vanjaar het Dirk Postma drie spanne ingeskryf, waarvan twee deurgedring het na die finaal. Die finale rondte is aan die oewer van die Vaalrivier by die FAK se Udolpho-oord aangebied – ’n rustige plaasomgewing waar leerders kon fokus en hul laaste voorbereidings tref.
Die vraestelle stel hoë eise aan deelnemers en bevat ’n verskeidenheid vraagsoorte: meerkeusevrae, invul- en pasmaatsvrae, blokkiesraaisels, en teksgedeeltes waar sekere woorde weggelaat is. Die finale rondte toets die leerders se kennis op ’n besonder hoë vlak – hulle moet groot dele van die Bybel ken en talle teksverse presies kan aanhaal.

Benewens Bybelkennis is taalvaardigheid in Afrikaans ’n kernaspek van die kompetisie. Vermoë om te kan spel, sinskonstruksie- asook leesvaardigheid is belangrike vaardighede waaroor deelnemers moet beskik. Terselfdertyd ontwikkel hulle belangrike sagte vaardighede soos spanwerk, selfdissipline, deursettingsvermoë en verantwoordelikheid.
Dirk Postma is nederig dankbaar dat ons leerders vanjaar die eerste en tweede plek in die kategorie Hoërskole gewen het. Ons besef dat hierdie kennis waarvan die leerders kon getuig slegs genade is. Die grootste waarde van hierdie kompetisie lê egter nie in die uitslae nie, maar in die reis self: elke deelnemer bestee ’n jaar aan intensiewe Bybelstudie en dra aan die einde ’n skat van Bybelkennis met hom saam – ’n rykdom wat niemand van hom kan wegneem nie.

Deelnemers tweede plek: Tirsa Drijfhout, Melandi Bouwmeester, Wilhelm Goodey en Ettienne v Alten

Deelnemers eerste plek: Henro vd Linden, George Mnisi, Jannes Enslin en Wian Boersema.