Rekeningkunde is ‘n vak wat leerders toerus om getrou en verantwoordelik met hulpbronne om te gaan, as rentmeesters tot eer van God. Vanuit ‘n gereformeerde perspektief erken ons dat alles aan God behoort en dat ons rekenskap aan Hom moet gee. Deur hierdie vak leer leerders integriteit, akkuraatheid en etiese besluite neem in finansiële bestuur. Dit kweek ‘n sin vir geregtigheid en diensbaarheid, terwyl dit leerders voorberei om God se skepping te bestuur tot voordeel van die gemeenskap. Dit leer ons verantwoordbaarheid. Rekeningkunde word dus nie net as ‘n vaardigheid gesien nie, maar as ‘n manier om ‘n geloofsgetuienis uit te leef in die wêreld van werk en finansies. Voorts is dit belangrik om te onthou dat die Here die gewer is van alle eiendom, Hy is ook die Eienaar en onderhou dit (Ps 24:1). Die mens mag die besitter wees van wat God aan hom toevertrou het en moet op ’n verantwoordbare wyse daarmee omgaan.
Rekeningkunde fokus dus op die meting van prestasie, verwerking en oordrag van finansiële inligting aan ekonomiese sektore. Hierdie dissipline verseker dat beginsels, soos etiese gedrag, deursigtigheid en verantwoordbaarheid, nagekom word. Dit werk met die logiese, sistematiese en akkurate seleksie en vaslegging van finansiële inligting en transaksies, asook die samestelling, ontleding, vertolking en kommunikasie van finansiële state en bestuursverslae wat belanghebbende partye gebruik.
Die vak behels rekeningkundige kennis, vaardighede en waardes wat fokus op finansiële boekhouding, bestuursboekhouding en oudit. Hierdie aspekte dek ‘n breë spektrum van rekenkundige begrippe en vaardighede om leerders voor te berei vir ‘n verskeidenheid beroepsgeleenthede.