God het die Skepping meesterlik en goed geskape (Gen 1:31). Die Skepping is terselfdertyd so kompleks dat mense met beperkte vermoens en insigte nie naastenby op volledige wetenskaplike kennis kan aanspraak maak nie. God se werk is daarvoor te heerlik en wonderbaar. Tog mag die mens die skepping bestudeer en God daaruit beter leer ken en sy wonderlike almag raaksien (Ps 8).
Wetenskap word altyd vanuit ‘n bepaalde wereldbeskouing beoefen. Dit het implikasies vir die wyse van ondersoek en beskrywing van sy bevindings. Die Christen redeneer vanuit sy christelike lewens- en wereldbeskouing wat op god se Woord gebaseer is.
In die fisika en chemie word die meesterlike, ordelike struktuur en skoonheid van die skepping met behulp van eksperimentering onder beheerde toestande blootgele. Die wette wat deur fisiese en chemise eksperimente afgelei kan word is geen volledige verklaring van die skepping nie.
Die vak behels dus die studie van natuurwette en chemiese prosesse deur middel van modelle, teorieë en wetenskaplike ondersoeke. Die doel van die vak is om antwoorde en oplossings vir wetenskaplike vraagstukke te soek en om die verworwe kennis verantwoordelik toe te pas.