Sport en deelname aan sport in skole gaan hand aan hand. Vandag het die waarde van sport in skole eksponensieel gegroei en ook in ons skool sien ons die behoefte en waarde daarvan raak. Gesonde gebalanseerde sportaktiwiteite bied ’n goeie alternatief vir skermtyd, boonop hou die blootstelling aan oefening baie gesondheidsvoordele in.

Tydens die laaste deel van 2025, het Dirk Postma vir seker nie teruggestaan op die sportveld nie. Getalle is nie noodwendig in ons guns nie, maar die entoesiasme en ywer waarmee ons deelnemers en afrigters onderskeie sportsoorte aanpak, is telkens verstommend.
Die hoërskool-sagtebal het gegroei van “raap en skraap” om ’n span bymekaar te kry, tot twee volledige spanne wat hul staal op die baan gewys het, soms uitdagend, maar beslis in goeie gees.
Stil-stil wys die Jukskeispanne ook hoe om ’n pen te gooi. In die liga eindig een van die spanne 2de en spelers word verkies om in Desember te gaan deelneem aan die SA Junior Jukskei Nasionale Kampioenskap.
Die geleentheid was daar ook om skuiwe te maak teen ander skaakspelers. Vriendskaplike skaakwedstryde is gehou om die skaakspelers uit te daag om buite die boksie of bord te dink.
Die hoogtepunt was vir seker die laerskool-hokkie. Dit is verblydend om te sien hoeveel jong spelers vir oefening opdaag. Mini-hokkiedae is bygewoon en vol-veld hokkiewedstryde is op Astro-bane gespeel waartydens spelers nuwe vaardighede kon bemeester.
Die kwartaal het die pappas ook die voortou geneem en die waters getoets ten opsigte van mini-krieket. Alhoewel daar die jaar net een span was, beoog die skool om volgende jaar aan meer spannetjies die geleentheid te gee om deel te neem.
Harde werk word werklik beloon en hier was die hoërskool fietsry-span vir almal ’n voorbeeld. Deur die jaar het die span getrou geoefen en uiters goed presteer en baie goeie uitslae is behaal.
Natuurlik is sport nie altyd nét ernstig nie en is daar ook geleenthede vir sports geskep. So het die hoërskool ook twee sosiale, soms nat, gholfdae gehad waartydens die leerlinge geleentheid gehad het om hul vaardighede op die gholfbaan te beproef.
’n Paar van ons laerskoolleerders het aan die AGN-byeenkoms by Pilditch deelgeneem en baie mooi presteer. Hul het selfs gekwalifiseer om aan die nasionale atletiekbyeenkoms deel te neem.
Deurentyd is daar gewys dat deelname aan sport en veral spansport belangrik is. So motiveer en moedig hulle mekaar ook aan. Tydens die laaste helfte van 2025 het nie net die deelnemers die waarde hiervan besef nie, maar ook elke afrigter en ouer wat betrokke was by die sport. Ons wense is dat ons in 2026 kan voortbou op dit wat in 2025 mooi tot stand gekom het.