Age of Opportunity – Paul David Tripp
Waarom hierdie boek vir hoërskoolonderwysers waardevol is:
Paul David Tripp se Age of Opportunity: A Biblical Guide to Parenting Teens is veel meer as net ’n ouerskapboek. Dit is ‘n Bybels-gefundeerde gids om die wêreld van die tiener beter te verstaan. Tripp help die leser om verby bloot uiterlike gedrag te kyk en die hart, stryd, verlange, sonde, vrese en groeimoontlikhede van die adolessent raak te sien. Juis daarom is hierdie boek nie net vir ouers nie, maar ook vir hoërskoolonderwysers waardevol.
Die kernboodskap van die boek is verfrissend: die tienerjare is nie bloot ’n tyd van konflik en frustrasie nie, maar ’n besondere geleentheid. Tripp wys dat hierdie jare eintlik ’n oop deur is tot vorming, begeleiding en dissipelskap. Hy nooi volwassenes om nie bloot gedrag te probeer beheer nie, maar om jongmense se harte te bereik.
Een van die sterkste eienskappe van die boek is Tripp se realistiese, eerlike benadering. Hy romantiseer nie die tienerjare nie. Tog skryf hy met hoop. Hy herinner die leser daaraan dat volwassenes nie geroep is om bloot reëls af te dwing nie, maar om jongmense te leer van wysheid, waarheid, liefde en genade.
Tripp bring telkens die fokus terug na die hart. Hy wys dat verkeerde gedrag nie net ’n dissiplineprobleem is nie, maar dikwels die uitvloei van ’n dieper innerlike worsteling. Hierdie perspektief help onderwysers om die tiener beter te verstaan. In die skool is dit maklik om net die sigbare soms onaanvaarbare gedrag raak te sien. Tripp help mens om te vra: Wat gaan in hierdie leerder se hart aan? Waarvoor leef hy? Wat vrees sy? Wat probeer hierdie kind beheer, wegsteek of bewys?
Tripp beklemtoon ook dat dissipline belangrik is, tieners het leiding, orde en aanspreeklikheid nodig. Maar hy wys dat gesag die meeste vrug dra wanneer dit gepaard gaan binne ‘n gesonde verhouding. Hoërskoolonderwysers werk met jongmense wat op die drumpel van volwassenheid staan. Hulle toets grense, soek identiteit, ontwikkel onafhanklikheid en worstel dikwels met groot innerlike vrae wat nie altyd in woorde uitkom nie. Die stig van goeie verhoudinge is baie belangrik om die kind se hart te kan bereik.
Waarom is hierdie boek dus gepas vir hoërskoolonderwysers?
Eerstens help dit onderwysers om die ontwikkelingsfase van die tiener beter te verstaan. ’n Tiener is dikwels teenstrydig: hy wil groot wees, maar tree soms kinderlik op; hy wil onafhanklik wees, maar verlang steeds na veiligheid. Wanneer onderwysers dit verstaan, reageer hulle minder vinnig uit frustrasie en meer dikwels uit wysheid.
Tweedens help die boek onderwysers om te kyk wat agter die sigbare gedrag skuil. ’n Leerder wat ongeskik antwoord, klas ontwrig of akademies onverskillig lyk, is nie noodwendig net “moeilik” nie. Daar kan dieper onderliggende kwessies wees. Hierdie insig veroorsaak nie dat die onderwyser die sonde of ongehoorsaamheid verskoon nie, maar help hom om meer pastoraal te reageer.
Derdens versterk die boek die idee dat vorming belangriker as blote prestasie is. Hoërskole verkeer maklik onder druk om net op akademiese uitsette, dissipline en prestasie te fokus. Tripp herinner ons dat ons met die Here se kinders werk. Die tiener in die klas is nie net ’n iemand met ‘n rapport nie, maar ’n jong mens in wording. Onderwysers het dus nie net ’n akademiese taak nie, maar ook ’n vormende en begeleidende roeping.
Vierdens is die boek baie gepas vir ons skool omdat dit ’n sterk Bybelse raamwerk vir begeleiding bied. Tripp se benadering is nie bloot sielkundig of pragmaties nie; hy plaas die tiener binne God se verbondswerklikheid en beklemtoon dat ware verandering altyd hartswerk is. Vir onderwysers wat jongmense wil begelei in waarheid én liefde, bied die boek waardevolle raad.
Vyfdens help dit personeel om met groter empatie en geduld na tieners te kyk. Onderwysers kan maklik moeg raak vir die uitdagende gedrag van adolessente. Hierdie boek help om weer te onthou: agter die bravade is daar dikwels onsekerheid; agter die ongeërgdheid is daar soms teleurstelling; agter die opstand is daar dikwels ’n jong mens wat nog nie weet hoe om sy wêreld te hanteer nie.
Dit is egter ook goed om te noem dat die boek sterk op ouerskap fokus, en onderwysers sal dus nie elke praktiese toepassing een-tot-een na die skoolkonteks kan oordra nie. Tog is die beginsels Bybels en kan dit maklik na die opvoedkundige omgewing vertaal word. Juis in ’n hoërskool, waar onderwysers daagliks met identiteitsvorming, gedragskwessies, groepsdruk, selfbeeld, prestasiedruk en geloofsvrae te doen kry, kan hierdie boek hulle help om met groter insig op te tree.
Samevattend:
Age of Opportunity is ’n boek wat volwassenes leer om tieners as jongmense wat begeleiding nodig het te sien. By GSDP het ons dus besluit dat die hoërskoolpersoneel hierdie boek behandel juis omdat hulle hul roeping nie slegs as akademiese onderrig sien nie, maar ook as begeleiding van die tiener in hul karakter, geloof en lewensvorming.