Met groot dankbaarheid mag ons deel dat die Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma vir die afgelope 24 jaar ’n 100% matriek-slaagsyfer behaal. Dit getuig nie van menslike prestasie alleen nie, maar veral van die Here se besondere seën en trou oor ons skoolgemeenskap.
Vir meer as twaalf jaar – vanaf kleuterskool tot in matriek – is hierdie leerders doelbewus toegerus met kosbare geestelike, emosionele, sosiale en akademiese boustene. Onderwysers wat daagliks roepingsgetrou aangemeld het om hierdie kinders te vorm en te onderrig, kan nou met groot vreugde terugkyk op die mooi vrug van hul arbeid.
Wat die 2025-matriekgroep se uitslae besonder merkwaardig maak, is dat sommige leerders die jaar onder uiters moeilike omstandighede aangepak het, onder andere ernstige gesondheids- en persoonlike uitdagings. Tog het hulle nie net geslaag nie, maar van hulle het selfs onderskeidings behaal. Ons is opreg trots op julle dapperheid en deursettingsvermoë, dit is in my oë ook onderskeidings waardig.
Hoogtepunte van die 2025-uitslae:
- Elke leerder het 9 vakke geneem: 7 NSS-vakke en 2 verpligte GSDP-vakke (Bybel en Kerkgeskiedenis).
- ’n 100% slaagsyfer – een van slegs 5 uit 56 skole in die distrik.
- Uit ’n groep van 24 leerders is 30 NSS-onderskeidings behaal, met ’n verdere 23 onderskeidings in Bybel en Kerkgeskiedenis – ’n totaal van 53 onderskeidings.
- Wiskunde:
- 15 van die 24 leerders (62,5%) het gewone Wiskunde geneem (teenoor ’n nasionale gemiddeld van ongeveer 33%).
- 5 van hierdie leerders het met onderskeiding geslaag – dit beteken 33% van die klas slaag Wiskunde met onderskeiding (teenoor ±23% by groot skole).
- Volgens SOS se verslag het GSDP uitsonderlik goed in Wiskunde presteer. Ons word gelys onder die Top 10 Afrikaanse skole met die hoogste persentasie Wiskunde kandidate. Van alle skole in die land (onafhanklik en openbaar) het ons sesde in hierdie vak gekom en is ons eerste van alle Afrikaanse skole. Mag ons daaroor roem? Nee, dit is genade, die Here stuur kinders met gawes en Hy stuur onderwysers met gawes. Mag ons dit bekend maak, ja sodat ons ook ‘n boodskap mag uitstuur dat ons uitnemende onderwys aanbied en die kinders aan ons toevertrou mooi toerus.
- Fisiese Wetenskap:
- 8 leerders het die vak geneem;
- 2 het met onderskeiding geslaag en 4 met ’n B-simbool.
- 83% van die groep slaag met graadtoelating.
- Een leerder het ook heelwat distrikstoekennings ontvang vir IT en Rekeningkunde en was 2e algehele beste leerder van die distrik.
- Uitstaande prestasies:
- 2 leerders behaal 9 onderskeidings elk: (7 NSS + 2 Bybel & Kerkgeskiedenis)
- 1 leerder behaal 6 onderskeidings (7 NSS + Bybel en Kerkgeskiedenis)
- 1 Leerder behaal 5 onderskeidings (3 NSS + Bybel en Kerkgeskiedenis)
- Volgens SOS se verslag word ons sewende gelys onder die top 20 Afrikaanse kleiner skole met die meeste onderskeidings landswyd. Ons beklee die 4e plek in die kategorie Top 20 kleiner Afrikaanse skole met die meeste onderskeidings per kandidaat landswyd.
Ons is dankbaar vir hierdie mooi prestasies en vir die voorreg om dit te mag deel. Dit is bemoedigend vir onderwysers om te sien dat hul harde werk vrug dra, en vir leerders is dit ’n besondere vreugde om die vrug van volgehoue inspanning te beleef.
Ons erken saam dat akademiese prestasie belangrik is – dit maak deure oop en lê ’n stewige grondslag vir verdere studie en werk. Tog is dit nie die belangrikste van die skoolloopbaan nie, maar ’n middel tot ’n groter doel. Elke kind presteer ook ooreenkomstig die gawes wat aan hul gegee is, ons is net so dankbaar vir die leerder wat slaag, al is dit sonder ‘n enkele onderskeiding. Solank dit in getrouheid gedoen is. Die ware vraag is nie wat ’n leerder bereik het nie, maar wie daardie leerder aan die einde van sy of haar skoolloopbaan geword het.
Ware sukses lê daarin dat jongmense die skool verlaat met ’n gevormde hart, nie net ’n gevulde kop nie. Dat hulle weet wie hulle is, waar hulle behoort en op watter waardes hulle hul lewe wil bou. Dat hulle met onderskeidingsvermoë leer dink, met integriteit optree en met verantwoordelikheid keuses maak, ook wanneer dit moeilik is.
Ons wens ons leerders suksesvolle loopbane toe, maar veral ook dat hulle lewens van betekenis sal lei: lewens waarin gawes en kennis tot diens van ander gebruik word, en waarin werk as roeping verstaan word.
Die wêreld waarin ons kinders instap, is kompleks en dikwels onstuimig. Ware sukses is daarom dat hulle met standvastigheid en vertroue in die Here die lewe tegemoetgaan, bewus daarvan dat hulle nie alleen is nie en dat daar ’n vaste anker vir hul lewens is.
’n 100% slaagsyfer is iets om oor dankbaar en verheug te wees. Tog weet ons dat die ware “rapport” eers oor tyd gelees word: in die vrug wat jongmense as Christene dra, in die gesinne en gemeenskappe wat opgebou word, en in die lig wat die klas van 2025 bring waar hulle ook al hul plek inneem.Matrieks van 2025 – baie geluk met julle pragtige prestasie.
Mag die Here julle ryklik seën en lei op die pad vorentoe.