Intermediêre Fase (Graad 4 – 7)
Die intermediêre fase is ’n tyd van groei, hier le die fokus op leer met begrip, insig en verantwoordelikheid. Die fondament wat in die grondslagfase gelê is, word verder versterk en verdiep. Leerders begin meer onafhanklik werk, leer om verband te lê tussen kennis en praktyk, en ontwikkel die selfdissipline wat hulle vir die hoërskool en vir die lewe voorberei.
By Gereformeerde Skool Dirk Postma glo ons dat kennis nie bloot vir akademiese prestasie bedoel is nie, maar dat dit gebruik moet word tot eer van God en tot diens van ander. Daarom is alle onderrig in die waarheid van die Skrif ingebed — elke vak, van Wiskunde tot Sosiale Wetenskap, van Engels tot Natuurwetenskap, word binne ’n Bybelse wêreldbeeld aangebied. Kinders leer om die wêreld en hul plek daarin deur die bril van God se Woord te verstaan.
Ons maak gebruik van die Waterstroom-handboekreeks, wat voldoen aan die KABV-vereistes, maar verder verryk is met ekstra inhoud. Elke nuwe leereenheid begin met drie ankerkomponente: waardes, kennis en vaardighede. Die waardes word onderverdeel in
- Godsbeskouing – Wie is God?
- Mensbeskouing – Wie is die mens?
- Skeppingsbeskouing – Wat is ons roeping in die skepping?
Hierdie waardes word op natuurlike wyse in elke les geïntegreer, sodat kinders nie net leer oor die wêreld nie, maar ook oor hul verhouding met God en hul verantwoordelikheid in Sy skepping.
Leerders word in hierdie fase blootgestel aan ’n breë en gebalanseerde leerprogram wat vakke insluit soos:
- Bybel,
- Kerkgeskiedenis,
- Afrikaans,
- Engels,
- Wiskunde,
- Sosiale Wetenskap, Natuurwetenskap en Tegnologie,
- Lewensvaardighede,
- Rekenaarvaardigheid,
- Lees, en vir
- Graad 7-leerders ook
- Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en
- Tegnologie.
Elke vak bou voort op die kernbeginsel van vaslegging van kennis, begrip en vaardigheid word eers werklik waardevol wanneer dit diep gevestig is. Daarom word leer gestruktureerd, sistematies en betekenisvol aangebied, met ’n sterk fokus op leesbegrip, redenasie, probleemoplossing en selfstandigheid.
Ons onderwysers lei kinders om met nuuskierigheid te ontdek, met verantwoordelikheid te werk en met geloof te leef – sodat hulle as jong Christene volkome toegerus kan word vir elke goeie werk waartoe hulle geroep word. (2Tim 3:16 en 17)
Vinnige skakels
Skoolure
Gr 1 – Gr 2
07:40 – 13:00
Gr 3 – Gr 7
07:40 – 13:30
Nasorgsentrum
13:00 – 17:00