In vandag se moderne wêreld word skoene dikwels as ’n simbool van beskerming, netheid, mode of status gesien. Skoene word grootliks as ’n noodsaaklike deel van veiligheid beskou, sodat wanneer kleuters kaalvoet loop, dit nie meer gesien word as gesond en waardevol vir hulle ontwikkeling nie.
Kaalvoet loop was selfs in die Bybelse tye nie vreemd nie en soms is daar ook ‘n simboliese betekenis aan gekoppel.
In Eksodus 3:5 was dit ‘n simbool van eerbied wanneer God vir Moses sê hy staan op heilige grond en moet sy skoene uittrek. In die Nuwe Testament lees ons dat kaalvoet ook ‘n simbool van nederigheid en diensbaarheid was. In Johannes 3:15 lees ons dat Jesus sy dissipels se voete was en in Jesaja lees ons dat kaalvoet loop ook ‘n simbool van rou kan wees. Dus kan kaalvoet loop ‘n sterk simboliese betekenis hê.
Die Here het die mens so geskape dat elke liggaamsdeel belangrik is. Veral vir kleuters wie se liggaamsdele mooi sterk moet ontwikkel sodat leer kan plaasvind, is die fokus op gesonde voetontwikkeling ook belangrik. Kaalvoet loop het dus ‘n opvoedkundige waarde waarvan ons bewus moet wees.
Die waarde van kaalvoet loop vir ons kleuters in ’n moderne samelewing
Kleuters leer wanneer hulle speel en beweeg. Hulle voetjies is die primêre liggaamsdeel wat hulle in staat stel om die wêreld rondom hulle te verken en te ontdek. Een van die eenvoudigste, maar mees kragtige maniere waarop kleuters hul liggame en sintuie kan ontwikkel, is deur kaalvoet te loop. Verskeie studies toon dat kaalvoet loop fisieke sowel as neurologiese voordele tot gevolg het.
Breinontwikkeling vind plaas deur sensoriese integrasie
Wanneer kleuters op verskillende teksture beweeg soos growwe, gladde asook koue en warm oppervlaktes, ontvang die brein prikkels wat positiewe leer tot gevolg het. M.a.w. die brein ontvang terugvoer vanaf die senuwees in die voete wat sensoriese integrasie stimuleer. Dus kan die brein inligting vanaf die senuwees verwerk. Dit bevorder nie net ’n kleuter se vermoë om beter te konsentreer en te leer nie, maar speel ook ’n rol in die kleuter se vermoë om sy balans te hou en om homself te reguleer ten opsigte van sy ruimtelike perseptueel vermoëns. Hierdie is maar net een van die belangrike aspekte wat ’n kleuter moet kan bemeester vir skoolgereedheid.
Spiertonus verbeter
Wanneer kleuters skoene dra, word hul voetbewegings beperk. Wanneer hulle kaalvoet loop, beweeg hulle voetspiere natuurlik en baie meer effektief wat help met spierontwikkeling in die voete, enkels en bene. Dit dra by tot die kind se motoriese ontwikkeling, wat op sy beurt skryf, spring, hardloop en ander leeraktiwiteite ondersteun. Fyn- en grootmotoriese vaardighede word beter ontwikkel hoe meer ’n kind kaalvoet loop.
Selfvertroue en onafhanklikheid
Kleuters wat gereeld kaalvoet loop, word meer bewus van hul omgewing. Hulle leer om versigtig te trap, hulle balans te beheer en hul eie liggame te vertrou. Dit bou selfvertroue en bevorder selfstandige funksionering.
Ontwikkel gesonde voete
Kinders se voete is nog besig om te groei en om vorm aan te neem. Kaalvoet loop verminder die risiko van sekere voetprobleme soos platvoete deurdat die natuurlike voetontwikkeling gestimuleer word. Daarom is kaalvoetkinders se voete sterker en gesonder aangesien dit ook die bloedsirkulasie verbeter. Wanneer ’n kleuter se voete goed ontwikkel, beïnvloed dit die hele liggaamsbelyning positief.
Kaalvoete verbind ’n kleuter met die natuur
Kaalvoet loop op natuurlike oppervlaktes het die gevolg dat ‘n kind in kontak kom met die aarde. Hierdie “grounding” het volgens sommige navorsers ’n kalmerende effek op kinders. Die fisiese voel van grond en gras verskaf rustigheid, vreugde en kalmte. Kinders wat gereeld kaalvoete loop se emosionele welstand is dus beter.
Kaalvoet loop is dus meer as net speel. Dit is ’n ontdekkingsreis vir kinders om die wêreld met kaal voetjies te verken en te ontdek.