+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

KI in die Onderwys: Ondersteuner of kruk vir leer?

Hoe behoort Christen-onderwysers oor die gebruik van kunsmatige intelligensie in onderrig en leer te dink?

Carmin Smith

Sedert die ontstaan van die mensdom het tegnologie, as ontplooiing van God se skeppingsmandaat, die wyse waarop ons werk verrig beïnvloed. Dit impliseer dat tegnologie nie op sigself iets is nie, maar eerder ʼn aktiwiteit is waardeur die mens  gehoorsaam aan God moet wees. Ook in die klaskamer het tegnologie die wyse waarop onderrig en leer aangebied word verander. Deur virtuele museumtoere, die gebruik van video’s en klankgrepe, of data- en inligtingstelsels vir assessering en rekordbestuur, word die gehalte van onderrig verbeter. Tegelykertyd kan tegnologie deur die sondige begeertes van die mens ook skadelik wees. Daarom moet ons besin oor die rol van Generatiewe Kunsmatige Intelligensie (GenKI), veral in die sfeer van die onderwys.

Die beskikbaarstelling van GenKI  soos ChatGPT het die onderwyslandskap drasties ontwrig. Hierdie groot taalmodelle kan menslike spraak naboots en selfs “oorspronklike” tekste, beelde en video’s, wat vroeër slegs deur mense geskep kon word, produseer. 

Aan die eenkant is daar die tegno-optimiste, wat GenKI  met oorgawe aanvaar. Hulle is oortuig dat GenKI  hier is om ons lewens beter te maak. Leerders gaan slimmer wees, meer krities kan dink en meer gefokus leer oor onderwerpe waarin hulle belangstel. Hierdie ondersteuners gee aan leerders vrye teuels om die handige en kragtige hulpmiddel vrylik aan te wend.

Aan die anderkant is die tegno-pessimiste, wat waarsku dat KI die einde is van menslike intelligensie en dat ons een van die dae deur robotte vervang gaan word. Maak dus seker jy sê vir die chatbot dankie as dit jou geantwoord het!

En in die middel bevind ʼn groep bekommerde Christen-onderwysers hulself met onsekerheid oor hierdie saak. Dr Derek Schuurman,[1] ʼn professor van rekenaarwetenskap by Calvin University, en ʼn Christen, het Suid-Afrika in September 2025 besoek. Hy het ons gehelp om tegnologie vanuit die Bybelse raamwerk te oorweeg en het ook onderwysers en leerders van GSDP voor twee kritiese vrae gebring: As ons tegnologie aanwend, watter voordele kan dit vir ons hê? Watter moontlike verliese of skade kan dit inhou?

As positiewe aanwendings kan ons maar net dink aan die verskeidenheid wyses waarop  GenKI  geleenthede bied om navorsing uit te brei, of massas data te sorteer, logies te verwerk of om probleme te analiseer. Daar is selfs tye wat GenKI  deur onderwysers aangewend kan word om hulpmiddels, lesplanne en assesserings op te stel wat bevorderlik is vir onderrig en leer.

GenKI  en leer

Die uitdaging ontstaan egter by leerders wie se denkvaardighede nog ontwikkel moet word. Toenemend kom leerders skool toe met ChatGPT-antwoorde vir skryfstukke, mondelinge toesprake, navorsing of projekte wat onderwysers laat twyfel oor die hoe die leerproses verloop het. Dit is daarom belangrik om ‘n onderskeid te tref tussen die KI-gebruik van ’n volwasse persoon wat reeds die kernvaardighede bemeester het en onvolwasse leerders wat deur die leerproses moet gaan om kennis en vaardighede aan te leer.

Daar is bevind dat GenKI soms ʼn kruk kan wees en eintlik diepgaande leer kan verhinder. Gereelde GenKI gebruik kan ook die wanpersepsie by leerders skep dat hulle sekere vaardighede bemeester het aangesien die produk goed lyk. Maar eintlik het leerders minder geleer omdat die proses van sukkel, bedink, herdink en refleksie ʼn integrale deel van die leerproses vorm.

Ons moet dus mooi nadink oor die rol van GenKI in die leerproses. As ons leerders se kognitiewe vermoëns wil ontwikkel, moet ons dit duidelik in ag neem. Dit sluit geheue, begrip, insig, analisering, afleidings en kreatiewe skepping of herskepping van inligting en idees in. Terselfdertyd wil ons hul vaardighede in lees, dink, praat, skryf en beredeneer ontwikkel. Om dit te bereik, moet ons verseker dat die leerproses aktief en interaktief is. Dit vereis volle deelname en inspanning van die leerder.

Proses vs. produk

Hieroor moet onderwysers en ouers saam besin. Ek stel voor dat onderwysers hul begrip van onderrig en leer heroorweeg en fokus op dit wat GenKI nie kan na-maak nie. Leergeleenthede moet so geskep en bestuur word dat leerders aktief deelneem aan die leerproses. Onderrig gaan nie bloot oor die oordrag van inligting nie, maar oor mense – beelddraers van God – wat geroep is om as gelowiges in Sy koninkryk te leef. Wanneer onderrig slegs op die produk van leer gefokus is, ontstaan die gevaar dat GenKI dit meer effektief kan doen as die meeste leerders.

Onderwysers moet:

Wegbeweeg van ʼn produk-mentaliteit:

Onderwys behoort op vaardigheidsontwikkeling gefokus te wees, eerder as op leerderuitsette as die primêre maatstaf van sukses. ʼn Oorbeklemtoning van punte of erkenning maak leer leweloos en skep ʼn kultuur van “leer-vir-punte.” Onderwysers en ouers het die verantwoordelikheid om luiheid en oneerlikheid aan te spreek en leerders aan te moedig tot harde werk en selfstandige denke.

Modelleer verantwoordelike tegnologiegebruik:

As Christene besin ons vanuit ons kultuuropdrag hoe GenKI nie vir die slegte nie, maar vir die goeie aangewend kan word. GenKI self is sonder liefde; dit neem idees en gedagtes van denkers, akademici en kunstenaars en verpak dit as nuut en oorspronklik, sonder erkenning aan die ware skeppers. Dit is ‘n liefdelose vorm van uitbuiting van mense. Wanneer ons tegnologie inspan, behoort ons dit nie vir eie gewin te gebruik nie, maar tot diens van ander. Daarom bely ons dat ons nie van tegnologie afhanklik is nie, maar van God as die Voorsiener en Versorger, wat alle goeie gawes aan ons gee sodat ons Hom daarmee kan verheerlik.

Leerprosesse ondersteun: 

Onderrig moet fokus op die aanleer en inoefening van vaardighede. Leerders kom dus nie net skool toe om punte te versamel nie; die klaskamer moet ’n ruimte wees waar denke en groei aangemoedig word. Onderwysers behoort meer, nie minder, insette van leerders te verwag, wat self-dink, self-lees en self-skryf insluit.

In ʼn prestasie-gedrewe skoolomgewing kan dit frustrerend wees, en die leerproses kan soms slordig en onvolmaak wees. Tog is dit noodsaaklik dat onderwysers en skole ’n gesindheid van geduld en aanmoediging kweek, waar leerders foute mag maak en daaruit leer. Ware leer verg tyd en vereis dat onderwysers hul onderrigpraktyke herbedink en deelnemende onderrigmetodes gebruik. Dit behels ook dat onderwysers eienaarskap van die leerplan neem en genoeg tyd toewy om te fokus op dit wat werklik in die leerproses saak maak.

Eerlikheid oor GenKI  se gebruik: 

Onderwysers moet self eerlik wees oor hulle eie gebruik van GenKI  en ook die tekortkominge van hierdie hulpmiddels aan leerders verduidelik. Dit vereis dat onderwysers en ouers saam moet werk om verantwoordelike tegnologie-gebruik te modelleer aan kinders en nie self vasgevang te raak in die siklus van KI-misbruik nie.

Só kan ons as Christene bydra deur ons leerders te begelei om verantwoordelik met tegnologie om te gaan, eienaarskap van hul leer te neem, en die moed te hê om foute te maak en dit reg te stel.

Hierdie artikel is ‘n uittreksel uit ‘n akademiese artikel met volledige bronverwysings. Indien die leser die volledige akademiese artikel verlang is u welkom om dit per e-pos aan te vra by [email protected].


[1] Dr Derek Schuurman se webtuiste https://sites.calvin.edu/derek/

Photo by Andrew Neel

Nog nuus

+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa