+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Grondslagfase

By Gereformeerde Skool Dirk Postma sien ons elke kind as ’n unieke skepsel van God, geskape na Sy beeld, met ’n eie persoonlikheid, gawes en talente. Ons onderrig begin daarom by die hart: ons wil kinders help om hul wêreld en hul plek in die lig van God se Woord te verstaan.

Die grondslagfase lê ook die fondament vir elke kind se leerervaring. In hierdie belangrike jare, van Graad 1 tot Graad 3, word die basiese boustene van lees, skryf en wiskunde vasgelê, maar net so belangrik, ook die liefde vir leer self. Wat hier gevestig word, dra deur tot in elke latere skoolfase.

Ons is oortuig dat ware onderrig nie bloot kennis oordra nie, maar lewens vorm. Elke les en elke aktiwiteit is ingebed in die waarheid van God se Woord. Ons help kinders om nie net te verstaan nie, maar om te onderskei, nie net te onthou nie, maar om te leef volgens Bybelse waardes soos gehoorsaamheid, respek, verantwoordelikheid en liefde vir die naaste.

In hierdie fase fokus ons dus om te onderrig vanuit die Bybelse waardes, ook wat dissipline betref. Dit word nie afgedwing nie, maar die kind word geleer om al hoe meer ‘n volgeling van Jesus Christus te wees. Dit gaan gepaard met die voortdurende buig van die boompie, sodat hulle mooi sterk mag opgroei in die weë van die Here.

Die grondslagfase is baie meer as net akademiese voorbereiding, dit is karaktervorming. Hier leer kinders dat hulle unieke gawes uit die Here se hand ontvang het, en dat hulle dit tot Sy eer moet gebruik. ’n Stewige grondslag verseker dat die kind die volgende fase met sukses kan aandurf, tog beklemtoon ons dat sukses nie gemeet word aan prestasie alleen nie, getrouheid en geloof is belangrike ankers vir die lewe.

+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa