Graad 1 is veel meer as net ’n skooljaar; dit is ’n reuse-mylpaal vir elke gesin wat gekenmerk word deur ’n tasbare sin van verwondering. Vir die klein leerders is alles nuut en opwindend, van die groot tasse op hul rûe tot die nog groter kinders op die speelgrond. Hierdie fase is hul eerste kennismaking met ’n formele leeromgewing en dien as die deurslaggewende bousteen vir hul hele skoolloopbaan.
Die boumeesters van die toekoms
By GSDP is dit ons Graad 1-juffrouens wat die soliede akademiese fondament lê waarop elke leerder kan voortbou. Dit is krities om gedurende hierdie vormende fase elke leergeleentheid ten volle te benut. Ons juffrouens is meesters in baie verskillende fasette. Hulle gee aan letters betekenis, voeg dit saam om woorde te vorm en voeg dit dan saam om ‘n sin te vorm. Ons sien hoe die Here dan ook waarlik ‘n wonder in elke kinderbrein laat gebeur as dit uiteindelik lei tot ‘n kind wat kan lees. Ons graad 1 juffrouens lê ook die fondasie vas van alle toekomstige skryfwerk.
Hulle het die vermoë om syfers vir die kinders te ontsluit sodat getalbegrip vasgelê word en die kinders uiteindelik kan oorgaan na die beoefening van wiskundige berekeninge
’n Veilige hawe vir groei
Leer kan slegs plaasvind in ’n omgewing waar ’n kind geborge voel. Ons juffrouens hanteer hul klasse met ongelooflike geduld, lankmoedigheid en empatie. Deur orde en struktuur te skep, verseker hulle dat elke “graad eentjie” veilig voel om te ontdek.
Na slegs een kwartaal is die vordering reeds duidelik: letters het woorde geword, en syfers het in somme verander. Natuurlik is die sosiale aspek net so belangrik, pouses word met groot afwagting geniet, veral die oomblik wanneer daardie kosblikke oopgaan om te sien wat mamma ingepak het.
Fyn waarnemers (en klein kopieerders!)
Kinders se fyn waarnemingsvermoë laat ons gereeld glimlag. Onlangs het die juffrouens per ongeluk assesseringswerk dubbel afgerol en die ekstra papier in die herwinningsboks gegooi. Die Graad 1’s het nie op hulle laat wag nie! Hulle het dadelik die vraestelle uitgegrawe, dit begin voltooi en selfs begin “merk”, kompleet met die kenmerkende rooi merkie van die juffrou.
Dit is ’n bewys dat hulle ons fyn dophou. Hulle herhaal nie net wat gesê word nie, maar boots ook alle gewoontes na. Geen wonder mammas rapporteer dat “juffrou se woord wet is” by die huis nie; ons het tans klein juffrouens en menere in ons huise.
’n Pad van samewerking
Dit is aangrypend om te sien hoe onseker seuntjies en dogtertjies binne ’n jaar in selfversekerde leerders verander. Hierdie pad is egter nie altyd sonder uitdagings nie. Nie alle kinders ontwikkel teen dieselfde spoed nie, by sommiges is daar bepaalde emosionele, liggaamlike of akademiese uitdagings.
Omdat die juffrou die kinders vir byna ses ure per dag waarneem, sien hulle presies waar leerders uitblink en waar hulle dalk ondersteuning nodig het. Daarom is die vennootskap tussen ouers en onderwysers so kosbaar. Deur openhartig te kommunikeer, kan ons die beste plan vir elke kind beraam—of dit nou ekstra ondersteuning of perseptuele terapie behels.
’n Woord van dank
Ons Graad 1-juffrouens is uitsonderlike mense. Hulle balanseer liefde met fermheid en struktuur met speelsheid. Hulle plant nie net die eerste saadjies van akademie nie, maar leer ons kinders ook om sterk en vol moed te wees.
Dankie aan die toegewyde Graad 1-juffrouens by ons skool en regoor die land. Julle werk is waarlik onskatbaar.