Ek is trots, maar waarop?

Ons gebruik dikwels die woord “trots” in ons daaglikse gesprekke sonder om daaroor na te dink. Ons sê dinge soos: “Ek is trots op my sportprestasies” of “Ek is trots op my goeie punte.” As ouers sê ons dikwels: “Ek is trots op my kind se prestasies.” Maar wat beteken trots werklik in ‘n Christelike konteks? Kan ons trots wees sonder hoogmoed? Ja, Christelike trots is nie selfverheerliking nie, maar dankbaarheid en erkenning vir God se werk in ons lewens. Dit is nie ‘n trots wat op onsself fokus nie, maar op Hom wat alles moontlik maak.

  • Dankbaarheid in plaas van trots:
    In ons Christelike geloof glo ons in die soewereiniteit van God en ons afhanklikheid van Sy genade. Alle goeie dinge, insluitend ons prestasies, kom uiteindelik van Hom af. ‘Christelike trots’ gaan nie oor persoonlike prestasies nie, maar oor die erkenning van God se genade en werking in ons lewens. Daarom het Dirk Postma nie prysuitdelings nie.
    ‘n Meer gepaste term as “trots” mag dalk “dankbaarheid” wees. Byvoorbeeld, in plaas daarvan om te sê “Ek is trots op my punte,” kan ons sê “Ek is dankbaar vir my punte.” Hierdie manier van praat toon aan dat ons erken dat God die bron van ons sukses en seëninge is. Die apostel Paulus herinner ons hieraan in 1 Korintiërs 1:31, waar hy die profeet Jeremia aanhaal: “Die wat roem, moet in die Here roem.” Hierdie soort roem is nie op ons eie vermoëns gerig nie, maar op God, en beklemtoon dat Hy die bron van alle goeie dinge in ons lewens is.
  • Ons ware identiteit en rede tot roem:
    Wanneer ons ons nuwe identiteit in Christus ontdek, verander dit hoe ons oor trots en roem dink. Ons roeping is nie om te fokus op ons eie prestasies nie, maar om dankbaar te wees vir ons status as aangenome kinders van God. Hierdie trots, wat eerder as dankbaarheid gesien kan word, vloei uit Christus se versoeningswerk aan die kruis en die voortdurende heiligmaking deur die Heilige Gees.
    Efesiërs 2:10 herinner ons daaraan: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Ons waarde en identiteit lê nie in wat ons doen of wat ons bereik nie, maar juis in wat God deur ons doen. Dit is waarom ons met reg kan roem—nie in onsself nie, maar in Hom wat ons waarde gee en ons lei op die pad wat Hy vir ons voorberei het.
  • Trots op God se werk in die gemeenskap:
    As kerk en gemeenskap van Christus is ons geroep om te roem, nie op ons eie vermoëns of prestasies nie, maar op die getuienis van God se werk onder ons. Die kerk, as liggaam van Christus, dien as ‘n lewende bewys van Sy verlossende genade. Deur diensbaarheid, geestelike groei en gemeenskaplike byeenkomste soos eredienste, word Sy werk sigbaar. Soos Paulus in 1 Tessalonisense 1:2-3 skryf, is geloof, liefde en volharding alles bewyse van God se werking in ons midde.

    Dit is egter belangrik om ‘n duidelike onderskeid te tref. Ons waarde lê nie in die naam of status van ons kerkverband of ons skool nie, maar alleen in Jesus Christus. Romeine 3:23 herinner ons: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Hoogmoed oor ons eie skool of ons eie gemeenskap kan lei tot verdeeldheid en maak dit moeilik vir besoekers om welkom te voel. Dit kan ook ons eie geestelike groei strem, asof ons dink ons het reeds die eindbestemming van ons pelgrimstog bereik.

    God het ons geroep tot heiligmaking en voortdurende groei in hierdie lewe. Ons moet elke dag daarna streef om nader aan Christus te kom, die bron van ons geloof en alle goeie dinge. As ons ooit begin roem op onsself, laat ons dan terugkeer na Paulus se vraag in 1 Korintiërs 4:7: “Wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”

Ek moedig jou aan om God se werk in jou lewe raak te sien en dit met nederigheid en dankbaarheid te vier. Wees trots, nie op jouself nie, maar op die genade en krag van Christus in jou lewe en die gemeenskap wat Hy bou.

Deur Mnr Johann Snijder
Hoërskoolonderwyser

Nog nuus