Dirkies se dag van uitreik
Ons leef dikwels in ’n gemaksone. ’n Dak oor jou kop, ’n bord gesonde kos en mooi klere om aan te trek, aanvaar ons as vanselfsprekend. Ons dink baie keer nie eers aan ander wat swaarkry nie, want dit is nie in ons verwysingsraamwerk nie. Liefde vir jou naaste is ’n groot gebod wat die Here vir ons gegee het. Dit is wat ons ook by Hoërskool Dirk Postma wil uitleef. Daarom het die idee ontwikkel om ’n gemeenskapsprojek van stapel te stuur waar ons leerders hul hande uitreik na ander om ’n verskil in hul lewens te maak.
Beplanning het begin, produkte is deur die hele skool ingesamel en op 12 September 2025 het die Graad 8- en 9 leerders van Dirk Postma na vier verskillende organisasies in die gemeenskap gegaan om diensbaar te wees. Tydens die besoeke is die produkte wat ingesamel is, hoofsaaklik klere, speelgoed en skoonmaakmiddels, ook oorhandig.
Rock of Hope
Een van die groepe het die dag by Rock of Hope deurgebring. Rock of Hope is ’n organisasie wat ’n veilige hawe bied vir klein babas en peuters wat nie ’n heenkome het nie. Vir baie van ons was dit ’n bewusmaking van ander se nood om te sien hoe klein babas en peuters, wat mishandel of verwaarloos is, hier ’n veilige plek kry.
Rock of Hope bied al 14 jaar lank ’n tuiste aan kinders in nood en het al meer as 250 babas versorg. Die gemeenskap kan betrokke raak deur donasies, vrywilligerswerk of enige ondersteuning – elke daad beteken hoop vir elke kind.
Ons het besef hoe bevoorreg ons is om van kleins af versorgende ouers te kon hê en dat ons klein bydrae ’n groot verskil kan maak. Ons het gehelp waar ons kon en ervaar dat liefde en aandag net so belangrik is soos kos en klere.
Marguerite van de Wetering
Groentetuin by Nelmapius
’n Volgende groep leerders het na ’n kerk in Nelmapius gegaan, waar susters uit die gemeente groentetuine maak om kos te voorsien aan behoeftige mense. Die kinders wat na die kerk in Nelmapius gegaan het, het vroegoggend al die kompos, gereedskap en kos ingepak. Daarna het hulle in die pad geval.
Die kinders was so bietjie senuweeagtig, maar het sommer vinnig ontspan toe hulle daar aangekom het. Die dominee van die kerk het geopen en almal het saam psalms gesing. Dit was baie mooi om te sien dat mense van alle kulture, tale en nasies dieselfde God kan dien. Nadat ons onsself aan hulle voorgestel het, kon ons met die werk begin.
Ons het kompos in die tuine ingewerk. So kon ons die grond lekker sag maak en was ons gereed om te begin plant. Die seuns het lank geneem om gate te grawe vir 2 avokado-bome en ’n mangoboom. Daarna het almal ’n bietjie gerus, koeldrank gedrink en smullekker muffins geëet. Met daardie energie het hulle nog ’n paar saadjies geplant en opgeruim.
Dit was ’n aangename ervaring en ons het hulle nie net gedien nie, maar ons het baie van hulle ontvang. Ons sien uit om eendag weer so ’n gemeenskapsdag te hê.
Marike Diedericks
Mirtehof Ouetehuis
’n Derde groep het die dag by Mirtehof Ouetehuis spandeer. Daar het ons heerlik tyd spandeer saam met al die oumense. Ons het die dag begin deur uit die Bybel te lees en psalms te sing. Daarna het ons “noot-vir-noot” gespeel. Ons was verbaas oor die hoeveelheid liedjies wat die oumense reg kon raai. Buiten vir die “noot-vir-noot” was daar ook ander aktiwiteite wat ons saam met hulle gedoen het. Daar was ’n boontjiesak-speletjie, stomstreke, ‘pictionary’, en vele meer. Dit het gelyk asof die oumense dit baie geniet het, en ons was bly om te sien hoe so ’n eenvoudige daad ’n groot verskil in mense se lewens kon maak.
Meeste van die mense in die ouetehuis sien min, of byna nooit, hulle families en kleinkinders nie. Ons doelwit met hierdie dag was om die liefde en omgee van familie aan hulle te bewys.
Marné van de Wetering
Dynamic Women for Children
Die vierde groep leerders het na die organisasie Dynamic Women for Children gegaan. Die organisasie is soos ’n naskoolsentrum vir kinders uit die gemeenskap. Dit is kinders wat uit slegte en baie arm omstandighede kom. Die kinders kry kos en word gehelp met skoolwerk. Hulle sorg ook dat die kinders skoon, netjiese klere het.
Ons het die organisasie gehelp deur verskeie werk vir hulle te doen. Ons het ook skenkings saamgebring en vir die mense gegee, onder andere skoonmaakmiddels, speelgoed en klere. Die klimrame en speelplek van die kinders is deur ons geverf sodat dit weer nuut lyk. Die meisies het met die kinders gespeel en aktiwiteite gedoen soos vroteier, klei speel en stories lees. Hulle het dit baie geniet. Die seuns het geverf en gehelp om goed op ’n sleepwa te laai. Ons het ook die bussie gewas waarmee die kinders na hul verskillende skole vervoer word. Die mense het dit baie waardeer.
Die afskeid was moeilik toe ons moes groet, want vir daardie klein kindertjies raak mens dadelik lief!
Dis ’n voorreg om te kan gee, om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Ons het gesien dat dit nodig is om jou naaste te help