Om ’n onderwyser te wees, is geen geringe taak nie. Dit vra veerkragtigheid, deursettingsvermoë, geduld, liefde vir kinders, wysheid en deeglike kennis. Hierdie basiese toerusting ontvang onderwysers tydens hul opleiding; ná die verwerwing van ’n onderwyskwalifikasie word hulle as bekwaam beskou om te onderrig. By GSDP glo ons egter dat dit nie genoeg is om slegs bekwaam te wees nie. Ons glo dat onderwysers ook bevoeg moet wees om kinders in die weë van die Here te onderrig.
Daarom is dit vir ons belangrik dat onderwysers belydende lidmate van die GKSA of VGKSA is en die Heilige Skrif en die Drie Formuliere van Eenheid onderskryf. Hierdie fondament bepaal immers nie net wat ons glo nie, maar ook hoe ons onderrig, hoe ons dissipline hanteer, hoe ons na kinders kyk en hoe ons ons roeping in die klaskamer uitleef. Die Woord van die Here vorm die basis van alles wat in ons skool gebeur.
Ons is ook oortuig dat ’n onderwyser nooit “klaar geleer” het nie. Soos leerders, bly onderwysers ook lewenslange leerders. Daarom rig ons ons jaarprogram so in dat daar op ’n tweeweeklikse basis doelbewuste geleenthede vir personeeltoerusting is. Hierdie tye fokus spesifiek op die beskouing van onderwys vanuit ’n Christelike en gereformeerde perspektief. Dit is vir ons ’n noodsaaklike deel van die vorming van onderwysers wat nie net kennis oordra nie, maar ook met wysheid en onderskeiding leiding gee.
Tydens hierdie personeelsamesprekings versterk ons mekaar as medegelowiges. Ons dink saam na oor temas soos die vrug van die Gees in die klaskamer, die vorming van die hart van die leerder, die roeping van die onderwyser en die integrasie van die Bybel in die kurrikulum. In hierdie gesprekke word ons herinner dat opvoeding nooit neutraal is nie. Elke les, elke gesprek, elke reaksie op ’n kind en elke besluit in die klaskamer word deur ’n bepaalde wêreldbeskouing gedra. Daarom wil ons doelbewus leer om elke aspek van opvoeding deur die lig van die Woord te beskou.
’n Skool kan maklik verval in bloot die oordra van akademiese kennis en die aanbied van ’n vol program van buitemuurse aktiwiteite. Hierdie dinge is belangrik, maar dit is nie die diepste doel van Christelike onderwys nie. Deur voortdurende toerusting herinner ons mekaar aan die vormende taak waarvoor die Here ons verantwoordelik hou. Ons werk nie net met vakinhoud nie; ons werk met jong mense wat as beelddraers van God gevorm moet word.
Voortdurende personeelontwikkeling is om verskeie redes van groot waarde.
In die eerste plek bevorder dit goeie onderrigstrategieë. Wanneer onderwysers hulle verdiep in die Woord van die Here en saam met kollegas nuwe navorsing en onderwysbenaderings daaraan toets, bly hulle nie net teologies geanker nie, maar ook pedagogies ingelig. Só kan nuwe metodes, tegnologie en kurrikulumontwikkeling met wysheid beoordeel, aangepas en verantwoordelik toegepas word.
Tweedens help dit ons om relevant te bly. Die onderwyswêreld verander voortdurend. Nuwe benaderings en idees doen gedurig die rondte, maar nie alles is vanselfsprekend goed of bruikbaar nie. As gereformeerde onderwysers wil ons nie bloot enige nuwe tendens navolg nie, maar dit eers aan die Woord toets. Wat waardevol is, kan met vrug gebruik word; wat nie daarmee strook nie, moet verwerp word.
Voortdurende leer bevorder ook entoesiasme. Wanneer onderwysers self groei in kennis, wysheid en vaardigheid, bring dit nuwe energie in hul werk. Dit skep gemotiveerde onderwysers wat met groter oortuiging en vreugde kan onderrig. Terselfdertyd word ’n kultuur van ondersteuning, meelewing en voorbidding vir mekaar gekweek. In sulke gesprekke word ons weer daaraan herinner dat onderwys vir ons nie bloot ’n beroep is nie, maar ’n roeping.
Personeeltoerusting waak ook teen gearriveerdheid. Gereelde gesprekke bevorder ’n kultuur van voortdurende groei en nederigheid. Dit help ons om nie te dink dat ons reeds alles weet nie, maar om steeds bereid te bly om te leer, saam te dink en onsself te laat vorm. Waar personeel saam groei, saam reflekteer en saam bou, ontstaan ’n positiewe werksomgewing waarin verbetering en verdieping natuurlik kan plaasvind.
Hierdie toerusting dra ook by tot persoonlike geloofsgroei en motivering. Wanneer onderwysers dieper delf in die wese van gereformeerde onderwys, spoor dit hulle aan om verder te lees, verder te dink en verder te groei. Dit lei nie net tot groter begrip van opvoedkunde nie, maar ook tot verdieping in die kennis van die Woord. Onderwysers wat self geïnspireer en geestelik gevoed word, is baie beter toegerus om ook kinders te inspireer.
Verder versterk personeeltoerusting die etos van die skool. Die karakter van ’n skool word in groot mate gevorm deur die mense wat daar werk. Wanneer personeel doelbewus groei in geloof, karakter en roepingsbewustheid, vloei dit oor na die hele skoolgemeenskap. Dit raak sigbaar in die wyse waarop dissipline toegepas word, hoe met ouers gekommunikeer word, hoe konflik hanteer word en hoe kinders met liefde en waarheid begelei word.
Hierdie gereelde samesprekings bevorder ook eenduidigheid. Dit gee geleentheid dat personeel saam verenig rondom die skool se visie en missie. Ons word herinner aan waarvoor ons staan, waarna ons streef en hoe ons mekaar daarin kan ondersteun. Dit bring eenheid van denke en rigting, iets wat van onskatbare waarde is in die lewe van ’n Christelike skool.
’n Verdere belangrike aspek is Bybelse integrasie. Christelike onderwys gaan nie bloot oor ’n Bybelperiode aan die begin van die dag nie. Dit gaan daaroor dat ’n Christelike wêreldbeskouing elke vak en elke terrein van die skoollewe deurtrek — van Wiskunde tot Geskiedenis, van Taal tot Sport, van dissipline tot kultuuraktiwiteite. Onderwysers het gereelde geleenthede nodig om saam te dink oor hoe hulle die waarheid van God se Woord prakties en verantwoordelik in hul spesifieke vakgebied en daaglikse omgang met leerders kan verweef.
By GSDP handel hierdie tweeweeklikse personeelsamesprekings nie hoofsaaklik oor assessering, beplanning of spesifieke vakkennis nie. Daarvoor skeduleer ons aparte geleenthede. Hierdie byeenkomste is eerder ons Bybelstudie met die tema “onderwys”. Dit is tye waarin personeel saam alle aspekte van opvoedkunde deur die bril van die Woord beskou. Ervare personeel deel hul wysheid met jonger of nuwer kollegas, en saam dink ons krities oor sake soos evaluering, dissipline, beloning, leierskapsontwikkeling en vakfilosofieë — alles belangrike temas waarvoor voortdurende, diepgaande Bybelse nadenke nodig is.
Ons is opreg dankbaar dat ons as onderwysers, broeders en susters in die Here, mekaar se hande mag vat en saam mag groei in die geloof. In hierdie groei lê nie net die versterking van ons personeel nie, maar ook die seën vir die kinders wat aan ons toevertrou is. Want waar onderwysers self deur die Woord gevorm word, kan hulle met groter getrouheid help om ook die volgende geslag te vorm.