Die begin van ‘n nuwe skooljaar bring ook nuwe roetines en voornemens mee. Een so ‘n belangrike roetine is die pak van gesonde heilsame kosblikke.
’n Gesonde kosblik is meer as net kos – dit is brandstof vir jou kind se liggaam en brein om goed te kan funksioneer. Ons deel graag praktiese wenke om te verseker dat jou kind se kosblik gevul is met voedingsryke kos wat hulle sal eet.
Die boustene van ’n gesonde kosblik
Volgens die Suid-Afrikaanse Voedselgebaseerde Dieetriglyne moet ‘n gebalanseerde kosblik die volgende insluit:
Proteïene
Proteïene help jou kind om langer vol te voel en bevorder konsentrasie. Sluit maer proteïenbronne in soos gebraaide hoender, maer biltong, frikkadelle, jogurt, of hardgekookte eiers.
Ander goeie proteïen-opsies:
- Kaas
- Hoenderslaai of tunaslaai
- Vleisrolletjies
Koolhidrate
Koolhidrate of styselryke kos moet deel vorm van die kosblik se samestelling. Dis waar jou kind die meeste energie vir die dag kry. Kies volgraankosse soos volgraanbrood en pastas bo verfynde wit grane.
Probeer:
- Volgraan of bruinbrood
- Volkoringwraps
- Provitas
Groente
Voeg kleurvolle groente by soos kersiertamaties, komkommers, of wortelstokkies vir vesel en vitamiene.
Maak groente aantreklik:
- Sny dit in klein, maklik eetbare stukkies
- Pak dit saam met ‘n lekker yoghurtsousie.
- Gebruik kleurvolle groente om die kosblik opwindend te maak
Vrugte
Vrugte is perfek vir ‘n voedsame soethappie. Volgens navorsers help vrugte om akademiese prestasie te verhoog deur energie en breinfunksie te ondersteun. Probeer om seisoenale vrugte in te pak, dit is meestal dan ook goedkoper.
Maklike opsies:
- Naartjies (maklik om te skil)
- Druiwe
- Appelskyfies
- Bessies
- Piesang
- Kiwivrugte
Melkprodukte
Geniet melk, kaas of jogurt elke dag – dit is goed vir tande en bene en hou hulle gesond.
Inkorporeer melkprodukte deur:
- Jogurt (kies sonder toegevoegde suiker)
- Kaas (in blokkies gesny)
Onthou: Die beste kosblik is een wat jou kind sal eet en geniet, terwyl dit hulle die nodige voeding gee wat hulle benodig om te leer en te groei!
Deel gerus julle kreatiewe kosblikwenke met ander mammas.
Vir meer nuus en inligting oor Gereformeerde Skool Dirk Postma, volg ons op Facebook.