Ons het by alumnis, Marianka Conradie, gaan inloer. Sy deel haar herinneringe aan Dirk Postma en die waarde wat dit in haar lewe gehad het.
Vertel ons ’n bietjie van jouself: wie is jy, waar kom jy vandaan en watter jare was jy by Dirk Postma?
My naam is Marianka Conradie, ek het in Pretoria grootgeword en is tans 22 jaar oud. Ek het wonderlike ouers en twee parmantige yorkies wat elke dag so ’n bietjie opkikker. Nadat ek in 2021 aan die GSDP gematrikuleer het, het ek in Potchefstroom (NWU) gaan studeer en my Baccalaureusgraad in Gesondheidswetenskappe met Fisiologie en Psigologie, met onderskeiding verwerf. In 2025 het ek na my tuisdorp teruggekeer en my Honneursgraad in Chemiese Patologie – wat in Mei 2026 met onderskeiding aan my toegeken sal word – aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Ek is tans besig met my Meestersgraad in Chemiese Patologie aan die Universiteit van Pretoria en is opgewonde om te sien wat die res van die jaar inhou! Ek is ongelooflik dankbaar om te wees waar ek huidiglik is en ek besef elke dag opnuut dat ons soewereine God ’n plan vir elkeen van ons het.
Wat is jou mooiste herinnering van jou tyd by die skool?
Die matriekdiens aan die einde van ons skoolloopbaan.
Watter onderwyser het die grootste indruk op jou gemaak, en hoekom?
Sonder twyfel, juffrou Wanda Loretan. Hierdie rooikop-juffrou het elke periode op haar “verhoog” geklim, ’n broodnodige voetstampie gegee en ons moedertaal met absolute ywer, passie en bekwaamheid aangebied. Sy was ’n dame met klas (nie net die Áfrikaanse klas nie) en het haarself nooit laat voorsê nie. Juffrou Wanda het my sóveel meer geleer as hoe om ’n gedig te ontleed of ‘n taalfout uit te wys. Sy het my geleer dat woorde waarde het, hoe om my woorde wys te gebruik (en dat ’n mens jou woorde soms vir jouself moet hou), hoe om sin te maak van die sinnelose en om die liefde vir skryf en vir Afrikaans te koester. Juffrou Wanda se kenmerkende: “Kom, Bokkie, maak oop daardie blompotte!” sal menigte hoërskoolleerders vir ewig bybly. Juffrou Wanda het – een hoofstuk, een gedig, een toespraak en een brokkie kommentaar op ’n slag – ’n blywende paleis (ingerig met haar éie ingeboude verhogie) in baie mense se harte gevestig.



Was jy betrokke by enige buitemuurse aktiwiteite, sport of kultuur? Wat het dit vir jou beteken?
Ek het sagtebal gespeel (Juffrou Mariaan Hordijk het elke oomblik lekker gemaak!) en aan die ICO-kunstefees (2019), die Internasionale Afrikaans-Ekspo (2021), asook aan die Poort-skryfkompetisise (2021) deelgeneem. My opstel Agter geslote deure is ook in die Poort gepubliseer. Dit klink miskien amper té eenvoudig, maar ek dink dit is belangrik om iets te doen waarvan jy hou (of dit nou vóór of ná ‘n byna-onmoontlike Wiskundevraestel is). Ek is dankbaar vir hierdie geleenthede – dit was ’n voorreg gewees om my stokperdjie met ander mense te kon deel.
Hoe het die Christelike waardes en gereformeerde grondslag van die skool jou gevorm : as mens, as werker, as gesinsmens?
Ek sou nie gewees het wie óf waar ek vandag is sonder my geloof nie. Dit leer my elke dag om nederig te bly, vriendelik te wees (al is dit soms makliker gesê as gedaan), elke geleentheid met albei hande aan te gryp, nie op te gee nie, om in gebed te volhard en om dankbaar te wees vir die voorregte en gawes wat die Here aan my toevertrou het.
Hoe verskil jou ervaring by Dirk Postma van wat jy sien by mense wat elders skoolgegaan het?
Dit blyk asof die geloofswaardes, wat die fondasie van onderrig vorm en alomteenwoordig is in Dirk Postma, deesdae in baie ander skole as ’n debatteerbare voorreg i.p.v. as die norm beskou word. Daar was ook minder as 30 leerders in ons matriekgroep gewees, wat aansienlik minder is as in meeste ander skole – ek het nooit soos “net nóg ’n eksamennommer” gevoel nie.
Watter vaardighede of karaktereienskappe uit jou skooljare gebruik jy vandag nog elke dag?
Geduld en deursettingsvermoë (party mense noem dit hardkoppigheid) is van onskatbare waarde.
Om so duidelik as moontlik te kan skryf en jou denke effektief te kan weergee, is ook waardevol in byna enige konteks en is deel van my daaglikse lewe. Juffrou Elsa Godschalk en Juffrou Wanda Loretan het my geleer hoe om my woorde op ’n doeltreffende wyse te gebruik en hoe om sinnelose sinne te laat sin maak.
Waarop is jy die trotsste sedert jou skoolloopbaan?
Ek dink nie ek is noodwendig buitengewoon trots op ’n meetbare prestasie of op iets wat ek bereik of gedoen het nie, maar eerder op die rede waarom ek dit gedoen het – omdat ek werkilik lief is vir dít wat ek doen. Ek is trots daarop dat ek nie my hart laat verhard nie, al voel dit soms soos een van die “bepalings en voorwaardes” van die wêreld waarin ons, onsself tans bevind.
Wat sou jy vir ouers sê wat oorweeg om hul kinders by Dirk Postma in te skryf?
Ek is nie ’n ouer nie en dit bly elke gesin se persoonlike besluit, maar ek is dankbaar dat my ouers my by Dirk Postma ingeskryf het. Ek dink dit raak elke jaar meer uitdagend vir ouers om sulke belangrike besluite met absolute sekerheid te kan neem en gerus te wees dat hulle doen wat die beste vir hulle kinders is. Ek was nie op laerskool in Dirk Postma gewees nie en kan dus uit persoonlike ondervinding net kommentaar op die hoërskool lewer, maar ek glo dit is tog gepas: Deesdae moet ’n mens nie nét die skoolfooie, hoe ver ’n mens van die skool af woon en waarheen die graad 7-“klieks” gaan, in ag neem nie (alhoewel hierdie ook relevante punte is om te oorweeg), maar ook hoe hierdie lewensfase gaan bepaal met watter waardes jou kind die volwasse- en/of universiteitslewe gaan betree, wat hulle gaan kies om met hulle tyd te doen, die mense met wie hulle, hulself gaan vereenselwig en of hulle met trots of spyt na hulle skoolloopbaan gaan terugkyk.
Wat sou jy vir huidige leerders wil sê wat nog in die skool is?
Jy is PRESIES waar jy moet wees, selfs wanneer dit voel asof jou 10- of 20-jaar plan verbrokkel.
Onthou Deuteronómium 31:8: “En dit is die Here wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie.”
As jy die skool in een sin moes opsom, wat sou jy sê?
Soos C.J. Langenhoven gesê het: “Die waarde van die koelte is in die warm son rondom hom.”