Wanneer ’n mens die doopformulier lees, staan jy telkens weer voor dieselfde vraag: Waarvoor het ek daardie dag “ja” gesê? Wat beteken dit regtig om my kinders “in die leer te onderrig” en “te laat onderrig”?
Binne ons Gereformeerde konteks verstaan ons die doop as ’n sakrament, ’n heilige handeling waardeur God self sy verbond met ons bevestig. Die doop is nie ’n mooi simboliek of ’n tradisie nie—dit is God se genadige belofte aan die gelowige én sy gesin. Die “ja” wat ons as ouers uitspreek, is dus nie maar ’n formele instemming nie, maar ’n lewenslange verbondspad.
Onderrig tuis: waar die eerste “ja” geleef word
Die grootmaak van kinders is ‘n pad van konstante oefening, soms vreugdevol, soms uitputtend. Ons is bereid om te oefen vir liggaamlike fiksheid of professionele sukses, maar Paulus herinner ons in 1 Timóteϋs 4:7-8 dat oefening in godsaligheid die grootste waarde het.
Ouers moet daagliks kies tussen reghelp, straf, geduldig wees, begrens of net “maar laat gaan”. Die maklikste keuse is meestal die laaste een. Ons dae is vol aktiwiteite, dit is baie vermoeiend om deur die kind se emosies en weerstand te werk. Dit is nie lekker om gekonfronteer te word met ’n deur wat toeslaan nie, daarom los ons heel dikwels die “ja” by die kerk en gaan huis toe.
Maar die verbond roep ons tot konsekwentheid. Dit vra dat ons ons kinders nou grootmaak, nie eers vir “eendag” wanneer dinge rustiger is nie. Ons ja-woord moet sigbaar wees in ons reaksies, ons voorbeeld en ons daaglikse lewe, selfs in die alledaagse gejaag.
Onderrig rondom die Bybel: ’n Oefening van volharding
Huisgodsdiens klink eenvoudig, maar ons weet hoe moeilik dit soms is om almal rustig, gewillig en oplettend om ’n tafel te kry. Baie ouers voel onseker waar om te begin en laat dit dan heeltemal na. Ander dink godsdiens is hoofsaaklik die kerk se taak, asof die kerk saam met ons die “ja” by die doopvont gegee het.
Maar die doopformulier plaas die eerste verantwoordelikheid duidelik by ouers: om self die kinders in die genoemde leer van die Here te onderrig.
Huisgodsdiens vereis oefening, en oefening beteken herhaling, mislukkings, weer probeer, en volharding. In ’n kitsoplossing-kultuur voel hierdie proses moeilik, maar dit is juis dié klein, daaglikse gewoontes wat diep geestelike wortels vorm.
Ons moet ons kinders leer bid, en self moet ons deur gebed die wysheid vra wat God belowe om mildelik aan ons te gee.
Onderrig by die skool: ons tweede “ja”
In die hedendaagse samelewing word daar dikwels van skole verwag om die grootste deel van kinders se opvoeding oor te neem. Onderwysers moet kinders leer om te groet, om respek te betoon en om ordelik te wees Alle foute wat die kind begaan, word dadelik gekanaliseer na die “juffrou of meneer”. So asof die skool die “ja” belofte alleen moet oorneem. Die skool het ’n enorme taak om alle vakke vir die kinders aan te bied op so ’n wyse dat hulle die grootheid van die Here kan sien. Hierdie taak mag geen onderwyser ligtelik opneem nie.
Maar opvoeding is nie ’n taak wat deur die skool alléén gedra kan word nie. Die skool tree in by die tweede deel van die doopformulier—om saam met ouers die kinders in die Christelike leer te onderrig. Onderwysers is geroepe en spesifiek toegerus vir hierdie taak, maar dit vervang nooit die ouer se eerste “ja” nie.
Waar ouers en onderwysers hul “ja” saam uitleef, word kinders in geheel op ’n stewige fondament ooreenkomstig met die Here se eise gevorm.
Laat ons weer dink oor ons “ja”
Ons het mekaar nodig: ouers, skool, gemeente en gemeenskap.
Die “ja” van ons doopbelofte is nie ’n ligte of verbygaande woord nie. Dit is ’n daaglikse roeping. Hoe getrouer ons in die klein dinge is, hoe natuurliker groei die getrouheid in die groter dinge.
Slotgedagtes
Ons kinders is nie ons eiendom nie. Hulle behoort aan die Here en is slegs vir ’n tyd aan ons sorg toevertrou. Dit verlig die druk, maar verhoog terselfdertyd die verantwoordelikheid. Ons mag nie op ons eie wysheid staatmaak of net doen soos dit vir ons goed lyk nie. Ons leef ons “ja” gehoorsaam voor die Drie-enige God uit.