Ons vier vandag weer Hervormingsdag, tog hoef ons nie net by Hervormingsdag stil te staan om na te dink oor die rol wat die Hervormers t.o.v. die onderwys gespeel het. Sake in die onderwys waaroor daar meer as 500 terug geywer is, is vandag steeds relevant. Hierdie kort artikel het nie ten doel om ‘n diepte akademiese studie te maak van hierdie onderwerp nie, daarvoor is daar reeds pragtige artikels geskryf. Tydens die lees van sommige van hierdie artikels het ek dit goedgedink om iets opsommend neer te pen wat jonk en oud weer kan herkou en miskien ook aanmoedig om verder te gaan lees en die ryke nalatenskap van die Hervormers na te vors.
Hervormingsdag
Hervormingsdag, ‘n feesdag wat op 31 Oktober deur Christene ter herdenking van die kerkhervorming deur Martin Luther, gevier word. Op 31 Oktober 1517 het Luther 95 stellings aan die deur van die Slotkerk te Wittenberg vasgespyker.
Behalwe vir die feit dat hy met hierdie aksie as ’t ware die hervorming aan die gang gesit het, het hy ook ‘n groot invloed op onderwys gehad.
Agtergrond
Luther is gedurende die laat 15de eeu gebore. Sy pa was ‘n mynwerker wat deur harde werk ‘n redelik vermoënde man geword het. Hy het gedroom daarvan dat sy seun homself in die regte sou bekwaam, wat natuurlik vir hom aansien sou besorg. Tot sy pa se groot ontsteltenis het Luther besluit om eerder ‘n monnik te word.
Hy was ‘n ywerige student en het heelwat kwalifikasies behaal. Deur die loop van sy studies het hy baie geworstel met die Rooms Katolieke Kerk se leerstellinge wat uiteindelik daartoe aanleiding gegee het dat hy in 1517 die 95 stellings aan die deur van die kerk vasgespyker het. Die uiteinde van hierdie optrede was dat hy in 1521 gedwing is om vir sy lewe te vlug. So het die Protestantse Hervorming begin.
Luther se sienings oor onderwys
Luther se sieninge oor die onderwys in die tyd waarin hy geleef het, is as radikaal beskou. Vandag sou ons moontlik nie ‘n wenkbrou daaroor gelig het nie.
Opsommenderwys was die volgende vir hom belangrik:
1. Mense moet onderrig word sodat hulle die Woord kan lees.
2. Mans én vroue moet onderrig ontvang.
3. Onderwys behoort die kerk en staat te bevoordeel.
1. Mense moet onderrig word sodat hulle die Woord kan lees
Hierdie opvoeding behels geletterdheidsvaardighede, met ander woorde hulle moet kan lees met die uiteindelike doel om die Bybel self te kan lees. In daardie tyd was dit ‘n radikale gedagte want hierdie tipe onderrig was eintlik net beskore vir persone wat belangrik geag is naamlik handelaars, geestelikes en adellikes. Luther het besef as almal kan lees sou die kerk van daardie tyd nie meer totale geestelike beheer kan uitoefen nie. In die geskiedenis sien ons dat meeste mense uiteindelik wel toegang tot leesvaardighede gekry het.
Vandag:
Tog sien ons vandag weer hoedat leesvaardighede en leesbegrip kwyn. Christen onderwysers mag nie toelaat dat die vlak van ongeletterdheid toeneem nie. Mense wat nie kan lees nie, kan ook nie God se Woord lees nie. Daar moet geywer word om om kinders toe te rus met behoorlike geletterdheidsvaardighede. Dit mag beteken dat daar in skole ekstra tyd ingeruim word vir die voortdurende ontwikkeling van taalvaardighede. Gesproke en geskrewe taal is uiters belangrik, dit is die voertuig wat gebruik word om God se genade te verkondig. (Ef. 3: 8 – 12.)
2. Mans en vroue moet onderrig ontvang.
Vir Luther was dit belangrik dat onderrig vir almal toeganklik moes wees. In die tyd van Luther was dit ongehoord, vroue is nie as belangrik beskou nie, daarom was onderrig aan hulle ook nie belangrik nie. Die doel wat Luther met onderrig vir die vroue gehad het was weereens toerusting. Hulle moes toegerus wees om die Bybel te kan lees, maar ook sodat hulle ‘n huishouding goed kon bestuur.
Vandag:
Onderwys is (meestal) toeganklik vir almal, tog is daar lande in die wêreld waar meisies steeds onderrig ontsê word. Mag ons ook voorbidding doen dat veral lees- en taalonderrig vir hulle ontsluit word sodat hulle in staat sal wees om van God se genade in sy Woord kan lees.
Ons is dankbaar dat ons in Suid-Afrika in ‘n situasie is waar hierdie onderrig wel moontlik is. Pas dit op, voed dit, koester dit en ywer vir die behoud en verdieping hiervan. Laat ons nie vergeet wat die hervormers se bydrae 500 jaar gelede hiertoe was nie.
3. Onderrig is tot voordeel van die kerk sowel as die staat.
Luther het besef dat geletterde burgers die staat sal kan bevoordeel deur middel van geestelike, akademiese sowel as kulturele verdieping. Ook sou dit hul toegang tot die arbeidsmark verbeter. Verder sal die kerk ook meer toegang hê tot lidmate wat verder wil studeer en hulself bekwaam as leraars.
Vandag
Ons besef die belangrikheid van onderrig en in ‘n tyd waar kerk en staat agteruitgaan is dit belangrik om kinders van kleins af toe te rus met vaardighede om kennis, veral ook Bybelse kennis te kan ontsluit. Die waarskuwing in Hosea 4:6 “My volk gaan ten gronde as gevolg van ‘n gebrek aan kennis…” geld ook vandag vir ons. Kinders sal nie die kennis van die Woord kan opdoen as hulle nie die vermoë het om te lees nie.
Afsluiting
Alhoewel Luther bekend staan as ‘n hervormer het hy ook werklik geywer vir opvoeding en onderwys. Sy beklemtoning van die belangrikheid van gewone onderwys vir almal het later daartoe gelei dat skole dwarsdeur die protestantse dele van Duitsland ontstaan het. As gevolg van hierdie nalatenskap word hy ook as ‘n belangrike hervormer van opvoedkunde beskou. Die beginsel van die hervorming naamlik om altyd te reformeer na die Skrif is ook ‘n beginsel waarna in die onderwys gestreef moet word.
Saskia Meijer
Hierdie artikel het in KOMPAS Jaargang 31, No. 11 November 2022 verskyn